Spar se ‘Carols by Candlelight’ samel duisende in vir kwesbaarstes

Elandré, Tashé Burger, Joe Black, Charlize Berg en Riana Nel het saam met die Soweto Gospel Choir opgetree by vanjaar se aanlyn weergawe van die gewilde Carols by Candlelight-konsert. (Foto: Verskaf)

Jacaranda FM en Spar het Woensdagaand meer as R300 000 ingesamel om vir 2 500 kinders reg oor die land Kersgeskenke te gee.

Te midde van ʼn uitdagende jaar het Suid-Afrikaners Woensdagaand aanlyn bymekaar gekom vir die jaarlikse Kerskonsert en verenig, saamgesing en gedeel in die gees van gee.

Vanjaar se Spar Carols by Candlelight-konsert het meer as 250 000 kykers wêreldwyd gelok. Sommige mense het van so ver as Kanada, Indië en selfs van Sentraal-Afrika af vir die konsert ingeskakel.

Die geleentheid het ook daarin geslaag om R309 747 in te samel, wat die radiostasie se aanvanklike doelwit van R250 000 oortref het om aan begunstigdes te gee.

“Die konsert wou Suid-Afrikaners verenig in ʼn feestelike omgee-gees, maar ons wou hierdie feestelikheid ook versprei na die uithoeke van die uithoeke van die land waar kwesbare kinders nie so gelukkig is nie,” het Deirdre King, besturende direkteur van Jacaranda FM, gesê.

King meen as daar ooit ʼn jaar was om deel te wees van ʼn gees van liefdadigheid en iets te doen vir diegene wat dit nie vir hulself kan doen nie, is dit 2020.

Jacaranda FM, die Good Morning Angels-span en Spar sal saamspan om die ruim skenkings te gebruik om speelgoed vir kinders van 11 kinderhuise in Suid-Afrika te koop.

Vanjaar se begunstigdes is:

  1. SOS Kinderdorp – Rustenburg, Noordwes
  2. SOS Children’s Village – Nelspruit, Mpumalanga
  3. SOS Children’s Village – Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal
  4. SOS Children’s Village – Sekhukhune- maatskaplike sentrum, Limpopo
  5. SOS Children’s Village – Kaapstad, Wes-Kaap
  6. Kinderwelsyn Tshwane, Gauteng
  7. Kinderwelsyn Midrand, Gauteng
  8. Abraham Kriel-kinderhuis, Gauteng
  9. Look Forward-weeshuis, Gauteng
  10. Juno Aurora-tehuis, Gauteng
  11. The Hanna Charity, Gauteng

Tarryn Lamb saam met Joe Black, Charlize Berg, Karen Zoid, Elandré, Tashé Burger en Riana Nel op die verhoog. (Foto: Verskaf)

“Ek glo ons ​​stem almal saam dat ons gewoonte om geskenke te gee, die ontvanger spesiaal laat voel en dat elke kind verdien om spesiaal te voel oor Kersfees. Dit is waarom Spar Carols by Candlelight vir ons so ’n spesiale geleentheid is,” het King bygevoeg.

Die Kerskonsert is voorheen in Gauteng aangebied en het ʼn feestyd gunsteling geword by gesinne in die provinsie.

“Hierdie jaar het die pandemie die geleentheid gebied om hierdie pragtige konsert na elke uithoek van Suid-Afrika en verder te stroom. Ons het die vrygewigste mense in hierdie land, en ek is baie geïnspireer om te sien dat die gees om minderbevoorregtes te help in Suid-Afrika nog warm brand,” het Pieter van Vuuren, Spar se bestuurder vir binnelandse advertensies en promosies, gesê.

Van Suid-Afrika se grootste musiektalent soos die Soweto Gospel Choir, Karen Zoid, Riana Nel, Tarryn Lamb, Swing City, Matthew Mole, Elandré, Charlize Berg, Tashé Burger, Joe Black en Zolani Mahola het ʼn versameling van bekende Kersliedere vir vanjaar se konsert gesing.

Besoek www.jacarandafm.com vir meer inligting oor Jacaranda FM se liefdadigheidsprojekte.

Die gees van omgee was groot by vanjaar se Carols by Candlelight-konsert wat Spar en Jacranda FM aangebied het. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.