Spar se ‘Carols by Candlelight’ wéér aanlyn

Tarryn Lamb (Foto: Mias Photography)

Op 2 Desember sal Spar en Jacaranda FM se jaarlikse Carols by Candlelight-konsert vir ʼn tweede keer aanlyn aangebied word. Dié immergewilde Kerskonsert spog met van Suid-Afrika se gewildste musikante en lok elke jaar duisende aanhangers.

“Ons moes verlede jaar vir die konsert ʼn nuwe baadjie aantrek om te verseker dat ons lojale aanhangers steeds hul jaarlikse dosis plaaslike feesvermaak kry,” sê Deirdre King, besturende direkteur by Jacaranda FM.

King sê na die sukses van verlede jaar se regstreekse aanlyn konsert het hulle besluit om dit vanjaar weer in dié formaat aan te bied. “Ons wil ook soveel as moontlik aanhangers en skenkers hierdeur bereik.”

Gehore kan uitsien na vertonings deur Tarryn Lamb, Elandré, Refentse, Jo Black en Elvis Blue, Charlize Berg en die Mzansi Jeugkoor.

“Elke jaar keer ons fantastiese kunstenaars terug vir die geleentheid, en hierdie jaar is ons verheug om J Something en Kelly Khumalo by die Carols-familie te verwelkom. Dit gaan alles oor wat ons saam en vir mekaar kan doen,” voeg King by.

Maroela Media het in Desember verlede jaar berig dat daar verlede jaar meer as R300 000 ingesamel is om vir 2 500 kinders reg oor die land Kersgeskenke te gee. Dié konsert het ook meer as 250 000 kykers landwyd gelok.

Jacaranda FM en die Good Morning Angels-span sal saam met Spar hande vat om die geld wat deur digitale skenkings ingesamel word vir Kersgeskenke aan te wend. Hulle hoop om speelgoed vir 2 500 kinders uit 11 huise reg oor Suid-Afrika te koop.

Toegang vir die konsert is gratis, maar Spar en Jacaranda FM doen ʼn beroep op aanhangers om hul welwillendheid te betuig en ʼn skenking vir die saak te maak. Alle geld wat ingesamel word, sal verseker dat die Good Morning Angels-span vir behoeftige kinders reg oor Suid-Afrika hulle eie nuwe speelgoed kan skenk.

“Om te weet dat ons geleentheid die gees van gee vasvang en kwesbare kinders help om te deel in die vreugde wat die feesseisoen bring, is ongelooflik aangrypend,” sê Pieter van Vuuren, Spar se binnelandse advertensie- en promosiebestuurder.

Besoek Jacaranda FM se webwerf vir meer inligting oor vanjaar se Carols by Candlelight.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.