‘Speel die snare’ – Rudi en Gerhard

speel die snare

Foto verskaf aan Maroela Media

Dit lyk asof daar ’n oplewing in die gewildheid van kitaarmusiek is – al hoe meer kitaarspelers tree na vore om CD’s uit te reik.

Rudi Jooste en Gerhard Meyer is albei ervare kitaarspelers wat onder andere saam met Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels en meer onlangs Die Ventertjies gespeel het, en hul eerste gesamentlike CD, Speel die snare, is onlangs bekendgestel.

Op dié album is daar verskeie tradisionele komposisies waarvan “Lente op die plaas” die eerste een is. Hulle kom vorendag met ’n klank sonder enige fieterjasies en wat van ware musiektalent getuig.

Jan Brits, ’n bekende kitaarspeler, het “Emmarentia-tango” gekomponeer en dié is ook ingesluit.

Die eerste enkelsnit in Rudi en Gerhard se album is “Bosveldliefde” waarvan daar ook ’n musiekvideo vervaardig is.

“Sewes se wals” is nog een van die tradisionele komposisies in die album. Chris Oberholzer het “Chris se vastrap”, seker een van die beste snitte in die album, gekomponeer.

Rudi is ’n lid van die Kannie Warries-dansorkes wat ook al ’n paar CD’s uitgereik het en hul komposisie “Jurg se wals” is nog ’n hoogtepunt op die album. “Langloop-kwêla” is Jan Brits se tweede bydrae tot die album. “Lig in die venster” is ’n ou bekende snit wat oorspronklik ’n treffer vir Die Vos-broers in die 1950’s was.

Daar is net een internasionale snit in die album ingesluit, naamlik die George Baker Selection se no. 1-treffer “Baby Blue”.

Die derde Jan Brits-komposisie in die album is “Swart turf seties”, dalk een van die beste snitte in die album. “Misvloer-seties” is nog een van die hoogtepunte van die album. Die laaste snit, “Greasy”, is ’n komposisie van Hansie Roodt, een van die beste kitaarspelers wat ons land opgelewer het.

Dit gebeur deesdae nie gereeld dat ’n album uitgereik word waarin ware musiektalent eerste gestel word nie. In hierdie album kom ’n mens egter agter dat Rudi en Gerhard nie op foefies staatmaak om goeie musiek voort te bring nie. Sonder enige bykomende musikante is die klank wat hulle voortbring goed en ’n bewys dat hulle weet wat hulle doen. Dié album kan sterk aanbeveel word vir liefhebbers van kitaarmusiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.