‘Spel van liefde’ – Pieter Koen en Cordelia

Foto: Verskaf aan Maroela Media

Foto: Verskaf aan Maroela Media

Die talentvolle Cordelia, wat bekendheid verwerf het met liedjies soos “Mal in jou kop” en “Eerste woorde”, het kragte gesnoer met die bekende sanger en televisie-aanbieder Pieter Koen (“Man van staal” en “Wat die hart van vol is”) en het pas die musiekvideo vir hulle duet-enkelsnit, “Spel van liefde”, uitgereik. Die liedjie pryk reeds op die trefferparades van radiostasies landswyd.

Oor die samewerking met Pieter sê Cordelia: “Pieter Koen is ’n baie aangename mens met ’n uitsonderlike talent. Dit was heerlik om saam met hom te werk aan hierdie liedjie en ’n baie groot voorreg. Ek hoop die publiek hou van dit wat hulle hoor!”

“’Spel van liefde’ gaan presies oor dit wat die woorde sê.  Ons almal speel ’n spel van liefde. Almal het ’n behoefte om deel te wees van ’n liefdespel – ons wil behoort … spesiaal voel en ook liefde gee. My gunsteling-liedjies is altyd oor die liefde. Liefde bewys net weer eens dat geld dit nie kan koop nie. Liefde oorwin alles,” sê Cordelia.

Die liedjie is geskryf en getoonset deur Vaughan en Nerine Gardiner en is vervaardig en gemeng by Muse Studios deur Hugo Ludik en Vaughan Gardiner.

Die video is vervaardig deur AVC Studios en Luther van der Watt het die regie behartig. Die foto’s op stel is deur Carike Nel geneem.

Pieter is net so opgewonde oor die liedjie en sê dit was ’n groot pluimpie om deur Cordelia genader te word om ’n duet saam met haar op te neem. “Ek het nie twee keer gedink om betrokke te raak nie. Cordelia het al die elemente wat ’n kunstenaar nodig het om dit te maak: Sy is gevestig in haarself as mens en weet hoe sy mense se harte wil bereik deur haar musiek. Ek glo die publiek gaan net so byval vind by die liedjie soos wat ek het. Ek wens Cordelia soveel sterkte toe met haar loopbaan!”

“Spel van liefde” is beskikbaar op Cordelia se debuutalbum Breek die stilte en word versprei deur Real Music Distribution.

Kyk hier na die video:

 

https://www.youtube.com/watch?v=zBHsF0RO-bU

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tersia ·

Dit is regtig baie mooi. Met hierdie lied kan mens eintlik eers regtig hoor hoe mooi Pieter Koen se stem eintlik is. Baie mooi lied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.