Spice Girls gaan glo herenig vir wêreldtoer

Mel C (Sporty Spice), Mel B (Scary Spice), Victoria Beckham (Posh Spice), Emma Bunton (Baby Spice) en Geri Halliwell (Ginger Spice) (Foto: Instagram)

Die gewilde Britse popgroep Spice Girls se vyf oorspronklike lede gaan glo herenig vir ʼn wêreldtoer waarvan die planne binnekort bekend gemaak sal word.

Die groep, wat bestaan uit Mel B (Scary Spice), Mel C (Sporty Spice), Emma Bunton (Baby Spice), Geri Halliwell (Ginger Spice) en Victoria Beckham (Posh Spice), het volgens berigte ʼn stewige kontrak van £50 miljoen vir die wêreldtoer onderteken.

Dié aankondiging volg ná twee jaar lange onderhandelings met Beckham, vrou van die Britse sokkerster David Beckham, wat vantevore aangedring het dat sy nié weer saam met die groep sal optree nie.

Daily Mail berig die groep het Vrydag by Halliwell se huis in die noorde van Londen byeengekom en “daarin geslaag” om haar te oortuig om by hulle aan te sluit wanneer hulle die wêreldtoer gaan onderneem.

“Victoria is aanvanklik koudgelaat [deur die idee] om weer saam met die Spice Girls op te tree en te sing, maar Vrydag se ontmoeting het haar die goeie tye laat onthou. Hulle het saamgesit, gelag en die goeie en spesiale tye onthou – en toe stem sy in,” het ʼn bron naby aan die groep aan die webwerf vertel.

Mel C het aan The Sunday Mirror gesê die groep is baie positief oor dié hereniging. “Die meeste van ons aanhangers is vroue. Sommige van hulle is ouers wat hul eie besighede bedryf. Jong meisies herontdek die Spice Girls en dit voel soos ʼn goeie tyd om weer te herenig – ons kort die ‘girl power’-boodskap nou meer as ooit.”

Die Spice Girls was laas tydens die Olimpiese Spele in 2012 saam op die verhoog te sien.

Spice Girls (Foto: Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.