Spoegwolf-album maak Apple Music-geskiedenis

Die gewilde alternatiewe Afrikaanse rockgroep, Spoegwolf, se jongste album, Koma, het die eerste Afrikaanse album geword wat die no. 1-posisie op die Apple Music-albumtreffersparade inneem.

Die Stellenbosse groep bestaan uit Danie du Toit (sang en kitaar), Chris von Wielligh (kitaar en klavier), Albert van der Merwe (baskitaar en sang) en Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang).

“Soms droom ʼn mens van ʼn fiets vir jou verjaarsdag. Dan word jy wakker en die hele Afrikaanse gemeenskap het bygedra om vir jou ʼn Ferrari te koop. Dit is hoe dit voel om die eerste Afrikaanse album in die no. 1-posisie op Apple Music te hê!” sê die groep oor dié prestasie.

Danie du Toit het die titel van die album, Koma, só verduidelik: “Dis ʼn konsepalbum wat gaan oor trauma en daarom het ons gedink die idee van ʼn koma pas perfek. Die liedjies gaan oor iemand met wie nare goed gebeur – val, opstaan … val, weer opstaan … om dan op die ou einde te besef niks anders bly oor nie as die wesenlike droom van liefde en die bietjie lig wat diep in hom vonk. Die luisterervaring moet voel soos ʼn diepe slaap; soos ʼn koma.”

Chris, Danie, Moskou en Albert van Spoegwolf. (Foto: Facebook)

Chris, Danie, Moskou en Albert van Spoegwolf. (Foto: Facebook)

Die album bestaan uit 14 snitte en sluit in “Blou”, “Storm”, “Lenie Blou lll” en “Die Rivier”.

Met meer as 50 miljoen liedjies op dié aanlyn platform, bied Apple Music vir gebruikers ʼn proeftydperk van drie maande sonder enige verpligting en sonder enige advertensies. Apple Music is die tuiste van talle gewilde Afrikaanse kunstenaars en bied die grootste verskeidenheid Afrikaanse speellyste, onder meer Die A-lys Afrikaans, asook kurator-vennootskappe met van die vernaamste Afrikaanse platemaatskappye soos In Afrikaans, Select Musiek en 100% Afrikaans.

Apple Music is beskikbaar op iPhone en iPad en kan ook afgelaai word by Google Play vir Androïd-toestelle.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Klok ·

Spoegwolf? Dit klink so platvloers. Kan hulle nie mooier name bedink nie?

Goeie musiek ·

Baie geluk Spoegwolf!

Daar is deesdae baie goeie Afrikaanse musiek beskikbaar waarvan ons nie eers altyd bewus is nie. Spoegwolf, Bittereinder ens. Vra jou kinders, hulle ken die name.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.