Spoegwolf, Corlea, Jannie Moolman aanlyn by Voortrekkermonument

(Foto: Theana Breugem/FAK)

Nog drie Hier staan ons-aanlyn konserte is binnekort te sien ná die reusesukses van die eerste virtuele konsert wat teen die vooraansig van die Voortrekkermonument geprojekteer word.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op 16 Junie die eerste konsert in dié reeks aanlyn konserte aangebied, met sanger en aanbieder Jak de Priester as gasheer en Steve Hofmeyr as sy eerste gas.

Die konsert is gehou om die dag te gedenk waarop die verskroeideaardebeleid ten tyde van die Anglo-Boereoorlog aangekondig is.

Op 18 Julie is Spoegwolf aan die beurt. Danie du Toit, voorsanger van die groep, sê hulle is baie opgewonde om deel te wees van die projek.

“Dit gaan ons eerste groot vertoning in ʼn baie lang tyd wees. Die Spoegwolf-masjien het nodig om weer te loop. Ons kan nie wag nie. Ons gaan ʼn hele paar liedjies vir die eerste keer ooit speel. Ons gaan die Voortrekkermonument afbreek en weer herbou,” het Du Toit tong in die kies oor hierdie uitsonderlike konsert gesê.

(Foto: Theana Breugem/FAK)

Die FAK en De Priester het hande gevat om dié reeks aanlyn konserte aan te bied om die land se monumente te help beskerm deur middel van kaartjieverkope. Met elke konsert sal De Priester ʼn ander gas verwelkom. Die Voortrekkermonument sal elke keer as venue gebruik word vir die konserte en uiteindelik sal ʼn skare self na die konserte kan kom kyk sodra die inperkingsregulasies opgehef is.

“Covid-19 het ons gewys dat bakens, sakeondernemings en tydskrifte wat nog ons hele lewe saam met ons was, skielik net nie meer daar is nie. Ons erfenisterreine en monumente word deur presies dieselfde gevaar in die oë gestaar. Kan jy jouself dit voorstel: ʼn Pretoria sonder ʼn werkende Voortrekkermonument of die Paarl sonder die lieflike Taalmonument of Bloemfontein sonder die Vrouemonument?” sê De Priester.

Die FAK het onlangs as deel van sy geskiedenisfonds ʼn omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekendgestel om hulle finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

“Monumente is inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

Die Voortrekkermonument is een van die plekke wat moontlik sy deure kan sluit weens ʼn verlies aan toerisme-inkomste nadat die nasionale staat van inperking ingestel is.

Spoegwolf. (Foto: Facebook)

Joe Engels van Xtreme Productions, wat hierdie konsert moontlik maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument self as “skerm” sal dien waarteen dié konsert geprojekteer sal word.

“Konserte is oor die jare heen al op verskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar is nog nooit op dié monument self lewensgroot vertoon nie. Dié monument beslaan 1 600 vierkante meter en is 40 m x 40 m groot. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien,” sê Engels.

De Priester gesels met sy gaste op ʼn verhoog wat by die Vrouebeeld by die ingang van die Voortrekkermonument opgestel is. Hy en sy gaste sing ook van hulle bekendste liedjies tydens elke konsert.

Corlea Botha, Nianell en Monique Steyn sal op Vrouedag (9 Augustus) hulle buiging op De Priester se verhoog maak.

Op 13 September sal Jannie Moolman na sy opera- en klassieke musiekwortels terugkeer as De Priester se vierde gas in die Hier staan ons-konsertreeks.

Kaartjies kos R60. Vir R150 kan kykers na al drie konserte kyk. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketslive.co.za en www.plankton.mobi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae