Spoegwolf sorg vir ‘energieke manewales’ met albumbekendstelling

Spoegwolf sorg vir ‘energieke manewales’ met albumbekendstelling (Foto: Anja van der Merwe)

Spoegwolf, die onafhanklike alternatiewe rockgroep uit die Wes-Kaapse wynland, het op 2 en 3 September sy agtste vollengte-album, genaamd Silwer, by die VULA Food Shack in Pretoria bekendgestel.

Dit was ʼn aand van goeie musiek, wyn uit die Kaap en kos van topgehalte.

Die aand se verrigtinge het afgeskop met Danie du Toit, die stem van Spoegwolf, wat ʼn wynproesessie aangebied het en stories uit sy kinderdae gedeel het. Sy liefde vir wyn kom van sy ouers en sy grootwordjare in die hart van die Wes-Kaapse wynland en berge.

Die aand se verrigtinge het afgeskop met Danie du Toit wat ʼn wynproesessie aangebied het en stories uit sy kinderdae gedeel het (Foto: Anja van der Merwe)

Die wynproe het gevolg met ʼn eksklusiewe optrede van dié gewilde musiekgroep.

Getroue aanhangers het elke woord van ou Spoegwolf-treffers soos “Loerie”, “Lenie Blou” en “Somerset-Wes” saamgeneurie terwyl Danie singend tussen die tafels hardloop. ʼn Gesnak na asem het deur die gehoor getrek wanneer dié groepleier, wat homself Reënwolf roep, op ʼn wankelrige stoel klouter of homself by die verhoogstellasie optrek.

Sonder dié waaghalsige toertjies en energieke manewales, is dit egter nie ʼn werklike Spoegwolf-vertoning nie.

“Ek doen dit deur en deur om mense te vermaak,” het Danie tydens ʼn onderhoud aan Maroela Media gesê.

Spoegwolf het op 2 en 3 September sy agtste vollengte-album, genaamd Silwer, by die VULA Food Shack in Pretoria bekendgestel (Foto: Anja van der Merwe)

Die groep het ook liedjies van die nuwe album gesing en die mense het behoorlik aan Danie se lippe gehang. Dit is die eerste keer dat hulle hierdie liedjies in die Jakarandastad sing.

Sy beskrywende lirieke – vol verwysings na kleure, liefde en godsdiens – is ʼn klomp visuele ervarings wat hy in woorde omskep. Volgens Danie “skryf hy wat hy sien”.

Die kombinasie van lirieke en musiek – Moskou du Toit op die tromme, Albert van der Merwe op baskitaar, Chris von Wielligh op kitaar, en Hiram Koopman, saksofoonspeler – het gesorg vir ʼn alternatiewe rockmusiekervaring uit die boonste rakke.

Silwer is landwyd op 3 September bekendgestel en was dieselfde dag nommer een op die Apple Musiek se treffersparade vir alternatiewe albums.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.