Spoegwolf vier 10 jaar; spog met nuwe album

Spoegwolf (Foto: Frits Visser)

Die musiekgroep Spoegwolf vier vanjaar 10 jaar se saam musiek maak en het pas hul negende album, Droombrief, uitgereik.

Die groep gaan maak ook in Augustus vanjaar ’n Europese draai, en beplan om vertonings in Amsterdam, Londen en Dublin te doen. Hulle beplan ook ’n heerlike Suid-Afrikaanse toer.

“Dit voel asof Droombrief ons beste werk sover is. Daar is fiktiewe elemente en dinge uit ons alledaagse lewens wat meng om ’n soort tydstempel te maak van waar ons nou in ons lewens is. Ek dink ons is die mees volwasse weergawe van ons groep,” het Albert van der Merwe, baskitaarspeler van Spoegwolf, aan Maroela Media vertel.

Die ander lede van die groep wat al sedert hulle hoërskooldae saam musiek maak, is Moskou du Toit (tromme, perkussie en stem), Chris von Wielligh (kitaar en klavier) en Danie du Toit (stem en kitaar).

“Ek persoonlik luister baie na ons albums. Meestal die vorige een terwyl ons besig is om te werk aan die volgende een, net om te sien waar is daar plekke waar, as ek meer tyd het, ek liewer iets anders sou doen en watter dele ek sal wil behou. Ek luister ook daarna omdat ek lief is vir die musiek; ek meen dis hoekom ons dit maak – om na te luister,” het Van der Merwe bygevoeg.

Die groep se harmonie, uniekheid en die pad wat hulle deur die jare gestap het, is deel van hul wenresep.

“Ons is ’n baie spesifieke groep individue. Die manier hoe ons frekwensies met mekaar harmoniseer, is spesiaal. Ons kom al so lank saam dat ons doodeerlik met mekaar is. Wanneer iemand met jou eerlik is, aanvaar jy dit. Bowenal is ons almal lief vir musiek. Selfs al raak ons kwaad vir mekaar, is die musiek altyd daar om ons bymekaar te hou.”

Om die lekkerste deel van hul loopbane te identifiseer, is ’n reuse-uitdaging.

Spoegwolf. (Foto: Facebook)

“Die proses van nuwe musiek skep, is ongelooflik. Ek dink nie enige iets voel lekkerder as dit nie. Maar om op ’n verhoog te wees en daardie eerste harde noot te slaan, is fisiek vir my ook een van die beste gevoelens in die wêreld.”

Na 10 jaar knyp die groep hulself steeds oor die ongelooflike aard van hul werk.

“Dis ’n mal gedagte dat ons week in, week uit net met musiek besig is. Dat ons dit as ’n werk kan doen en steeds kan oorleef. Ek dink die hele ding is surrealisties en dis vir ons ongelooflik as mense uitkom na ons vertonings toe of na ons musiek luister. Ons sou dit regtig net in ons motorhuis gesit en doen het as dit nie daarvoor was nie.”

Hy voel egter dat die uitleef van hul droom gepaard gaan met ’n verantwoordelikheid.

“As mense dan vir ons gaan luister, moet ons seker maak dat ons ons beste gee.”

Dis juis die aanhangers wat die groep aan die gang hou.

“Ons sien baie verskillende soorte mense by ons vertonings. Wat vir my interessant is, is dat mense afkomstig van verskillende subkulture almal, arms om mekaar, die liedjies sal saam sing.”

Daar is ook aanhangers wat jaar na jaar by die groep se vertonings opdaag, soveel so, die bekende en betroubare gesigte wat hulle geniet om in die gehore te sien.

Die groep het tydens die 10 jaar wat hulle al aan die speel is, onafwendbare ontwikkeling en groei ervaar.

“Ons het almal grootgeword deur die laaste 10 jaar. Ons het al soveel geleer oor die lewe en hoe om onsself te bestuur en hoe om dit wat die wêreld na ons toe gooi te hanteer.”

Nie net het die groep op persoonlike vlakke ontwikkel nie, hulle pas dit wat hulle deur die jare geleer het op die maak van musiek ook toe.

“Ons bou elke keer op wat ons die vorige keer gedoen het, ons leer elke keer nuwe lesse. Dit voel vir my asof elke album beter as die vorige een is. Ons werksetiek is ook goed op die oomblik.”

Die groep is ook, in hul 10de bestaansjaar, meer vertroud met toer en tree met meer selfvertroue as vantevore op.

“Nog nege albums, dalk meer. Ons beplan om aan te hou totdat niemand meer na ons luister nie, en dan nog so vyf jaar na dit,” vertel hy oor die volgende 10 jaar van Spoegwolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.