Spookpsalms

Piet Botha

Na 8 jaar laat die veteraan kunstenaar Piet Botha weer ‘n Afrikaanse album die lig sien. Die nuwe cd heet “Spookpsalms” en bevat 11 splinternuwe komposisies. Hoewel Piet reeds aan ‘n paar liedjies begin werk het, het die album in ‘n heel nuwe rigting geneig toe die TV program (“Wie lê waar” op kykNET), waarvan hy aanbieder was, eers op die kassie verskyn.

Vanaf September tot Desember 2010 was Piet en die kamera span landwyd op reis met die verfilming van die “Wie lê waar” reeks. Wie lê waar was in Maart op kykNET uitgesaai. Die reeks handel oor waar allerlei groot name uit ons geskiedenis begrawe is. Almal weet wie was DJ Opperman, onthou Bles en Gé maar, al ooit gewonder waar hulle begrawe is…? Die konsep behels dan om vir die kyker te gaan wys waar uiteenlopende bekendes se laaste rusplek is. Daar word ook kortliks gekyk na die belangrike bydra en nalatingskap gedurende hul leeftyd, asook die omstandighede rakende hul dood. In elke persoon se insetsel word daar `n onderhoud gevoer met `n kenner of familielid van die betrokke persoon voor sy graf besoek word. Die program het ‘n sterk historiese inslag en as gevolg van die tradisionele, tydlose gevoel het daar ‘n ander elemente ingetree in die liedjieskryfproses. Hierdie elemente het weer aanleiding gegee tot die idee van die Spookorkes wat die liedjies uitvoer.

Daar is ook gepoog om soveel as moontlik by tradisionele instrumentasie te bly. Derhalwe is die album propvol akoestiese kitare, klavier, mondfluitjie, trekklavier, saksofoon en orrel. Dit is ‘n eiesoortige stuk werk; heeltemal buite die moderne genre en totaal anders as Piet Botha se vorige Afrikaanse albums. Wat verfrissend en opvallend is van hierdie werk is die suiwer Afrikaans wat gebruik word. Daarbenewens die gevoel van “n ander tyd” wat mens ervaar met die deurluister daarvan.

Dit is moeilik om met eenvoud ‘n gewigtige saak oor te dra, maar Piet het homself goed van hierdie taak gekwyt. Selfs die humor wat opduik is satiries en laat mens lag maar met nabetragting. Die album is in April opgeneem deur Lanie vd Walt wat ook die regie en meng behartig het. Die tromme is oudergewoonte deur Paul vd Waal gespeel en die baskitaar deur Tertius du Plessis. Piet Botha het kitare, klavier, orrel en mondfluitjie gespeel en gesing.

Die pragtige vrouestem is deur Loandi Boersma gelewer. Verder was die legendariese Ollie Viljoen se begelyding op trekklavier en orrel ook geweldig opwindend. Nog ‘n ou vriend en eertydse lid van die Jack Hammer groep, Leon van Zweel, het die saksofoon laat huil. Donovan Borne het agtergrondsang gelewer en so het die Spookorkes lewe in die liedjies geblaas. Van die musiek op “Spookpsalms” is ook in ‘n TV reeks (“Wie lê waar”) gebruik maar nie in geheel soos dit op die album verskyn nie. Hierdie opnames is deur Riku Latti gedoen. Van die nuwe nommers wat reeds gewildheid verwerf by gehore is “Bitterfontein”, “Sysie September” (‘n nuwe verwerking van ‘n tradisionele Griekwa liedjie), “Stad sonder naam”, “Die heks is dood” en “Richmondstraat.”

Speellys

  1. Sysie September
  2. Richmondstraat
  3. Die Heks Is Dood
  4. Bitterfontein
  5. Stad Sonder Naam
  6. Begrafnislied
  7. Die Groot Verlange
  8. Hartbeeshuisie
  9. Neentientwee
  10. Winternag
  11. Spookjam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.