‘Spoorloos’-akteurs in nuwe Corné Pretorius-video te sien

Corné Pretorius en Hunter Kennedy. (Foto: Jaco Venter)

Corné Pretorius het die afgelope jaar met groot sukses op die Afrikaanse musieklandskap gedebuteer met snitte soos “Vuur en vlam”, “Vergewe my”, “Halfvol” en “Biertjies”.

Sy jongste enkelsnit, getiteld “Liefde is ʼn werkwoord” saam met Hunter Kennedy, is pas saam met ʼn splinternuwe musiekvideo uitgereik.

Sy vollengte-album, getiteld Halfvol, word op 24 September uitgereik. Dié debuutalbum bevat sy treffersnitte, asook liedjies soos “Werk toe en terug” saam met Loki Rothman, en “Ek wil glo” en “Sal dit jou gelukkig maak” saam met Margot Rothman.

Pretorius sê dat hy soms nie kan glo hoe baie daar gebeur het vandat hy sy musiekloopbaan in die middel van vlak 5 van die inperkingstydperk in April verlede jaar afgeskop het nie.

“Ek moet myself soms knyp om te besef hoe opwindend hierdie eerste jaar in die musiekbedryf vir my was. Ek werk saam met ʼn fantastiese span en is dankbaar dat mense aanklank vind by my musiek.”

Pretorius het “Liefde is ʼn werkwoord” saam met Hunter Kennedy en Fred ten Hartog geskryf. “Daar is vir my niks wat naby die gevoel in die ateljee kom nie. Die wêreld staan stil en alles draai om die skryf van liedjies.”

Die video vir “Liefde is ʼn werkwoord” is deur Damiane van Reenen in die Kaap geskiet. Die video is in Katinka en Braam Weyers se woonstel geskiet. Marguerite van Eeden is die vervaardiger, met die Spoorloos-akteurs Jane de Wet en Andhar Cotton in die hoofrolle.

Kennedy het agt uit die tien liedjies op Halfvol geskryf. “Ek is aan Corné voorgestel by Van Coke Studios. Ek het verlede jaar baie tyd gehad en dit was goeie tydsberekening toe Corné my vra om vir hom liedjies te skryf,” sê Kennedy.

“Ek moet sê, ek het nie verwag om boonop vriende te raak met Corné en ook nog in sy orkes te speel nie, maar dit is presies wat gebeur het. Ons het maar net gekliek. Hy het in dieselfde woonbuurt as ek grootgeword, so ek dink daar was ʼn mikrokultuur as anker vir ons om oor die weg te kom.”

Daar was vier musiekvervaardigers wat aan liedjies op die album gewerk het: Fred den Hartog, Johnny de Ridder, Richard Onraet en Loki Rothman.

“Ek dink ons het ʼn album gemaak waarop Corné trots kan wees. Hierdie album is nie net ʼn gehaltedebuut nie, maar ek moet byvoeg dat dit vir my ʼn bewys is van die veelsydigheid van ons vriendekring, waarvan Corné nou deel is.

“Almal wat aan die album gewerk het, het ʼn belangrike bydrae gelewer. Aan die begin het ek gedink ons moet dit koel genoeg maak vir Pierre Greeff om as produksiebestuurder by ons aan te sluit, en hy het!

“Dit is nie maklik om ʼn musiekloopbaan van stapel te stuur tydens ʼn inperking nie. Ek dink Corné is nogal gelukkig om so ʼn formidabele span agter hom te hê. Dit is nie sommer vir enigiemand bestem nie, maar hy het self ook hard gewerk om dit te kan laat gebeur. Die resultaat is een ongelooflike album.”

“Liefde is ʼn werkwoord” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.