Staan op Suid-Afrika

Winterskind

Toe Chris en Heidi Winterskind mekaar agt jaar gelede ontmoet het dit ‘n tweegesprek ontketen wat tot een van Suid-Afrika se opwindendste nuwe duo’s gelei het. Heidi se digkuns en Chris se akoestiese kitaar was uit die staanspoor ‘n vurige kombinasie. As Winterskind het hulle pas gedebuteer met Staan op Suid-Afrika, ‘n akoestiese folkrock-album met altesame 13 liedjies wat soos ‘n Bosveld-vuur knetter van oorspronklikheid.

Die titelsnit Staan op Suid-Afrika is ‘n emosionele wekroep wat Winterskind se passie vir sy land en sy mense onderstreep. “Dit is ‘n oproep aan al ons mede-volksgenote om die toestand in ons land met al die misdaad en moord te verander, deur terug te keer na ons Vader, sodat Hy verligting kan bring,” vertel die groep wat tans in Magaliesburg woon.

Winterskind se debuut-album is ‘n vars vermenging van mans- en vroue-stemme met Heidi en Chris wat beurte maak om die mikrofoon op te neem. Op die koop toe is die klank ‘n mengsel van folk, rock, ‘n skeutjie blues en selfs ‘n paar Latyns-Amerikaanse ritmes. Al is daar ‘n sterk geestelike tema in hul liedjies, is Winterskind versigtig vir die woord gospel. “Ons is baie passievol oor alles wat ons ervaar en doen. Daarom sal ons passie vir ons Vader ook na vore kom in ons musiek, maar ons sal nie sover gaan om onsself as ‘n gospelgroep te klassifiseer nie. Ons is eerder Christene wat ‘n CD gemaak het wat ‘n definitiewe afdruk van al ons passies verteenwoordig.”

Met Staan op Suid-Afrika wil Winterskind die liefde in al sy vorme besing: van romantiese liefde tot hul liefde en omgee vir hul geboorteland, hul landgenote en selfs wilde diere, soos die renoster. Die Engelse snit Masters of the Bush is juis oor die oorlewingstryd van die renoster geskryf.

Chris sing nie net nie, maar speel ook die ritme-kitaar en bekfluitjie. Heidi is naas sangeres ook die een agter die klawerbord en het met die opname van hul debuut-album die rol van mede-produksieleier gevul. Neil Scholes speel die baskitaar en Tony Smith is agter die tromme. J.P. de Stefani, hul produksieleier, het ook op die album kitaar gespeel op snitte soos Om lewendig te bly en Twee wolwe.

Winterskind het al op die “ou Amerikaanse manier” kuslangs getoer – van Durban tot in die Wes-Kaap – in hul 1976 Volkswagen-kombi. “Ons het albei alles opgeoffer vir ons eerste liefde en ons droom toe ons ‘n jaar gelede begin toer het en nou is ons voltydse musikante.”

Met Staan op Suid-Afrika gaan Winterskind met hul poëtiese lirieke, kraakvars kitaarklanke en emosioneel opregte lewensuitkyk die harte van oud en jonk verower. Daar was lanklaas so ‘n dapper gehalte-debuut in Afrikaans!

Speellys

  1. Om Lewendig te bly
  2. Silwerster
  3. Staan op Suid Afrika
  4. Illusie
  5. Soeke na my
  6. Vis
  7. Twee Wolwe
  8. Die Son sak weg
  9. Verlief en Verlore
  10. My Veldblom
  11. Red Ons
  12. Vasgemaak aan Jou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.