Steek die vure aan- Bok van Blerk

Steek die vure aanNa drie jaar se stilte en nadat hy in drie roplrente gespeel het, het Bok van Blerk eindelik sy stilte verbreek en sy vierde album, Steek die vure aan, uitgereik.

Die eerste snit, Land van melk en heuning, is ook die eerste treffer. Bok, of eintlik Johan Vorster, Christoph Kotze en Ewald Coleske wat die liedjie geskryf het, bly nie stil oor wat in Suid-Afrika aangaan nie, en dit was een van die grootste treffer op ‘n groot plaaslike radiostasie die afgelope jaar. Koue voete en warm liefde is ‘n lekker snit met ‘n maklike melodie. Christoph Kotze het hier met ‘n wenner vorendag gekom! Die Groot trek weer Kaap toe is nog ‘n goeie snit, wat vertel van iemand wat van die Kaap af na die noorde toe getrek het, maar wil teruggaan. Bok se vriendin, Hanna Grobler, skryf ook hier en daar vir hom lirieke, soos op die titelsnit. Hier is ‘n snit wat beslis ‘n treffer kan word!

Die lae register waarin Bok die volgende snit, Ons kyk na ons mense, sing, klink baie goed, maar later in die liedjie spring hy ‘n oktaaf, en kom ‘n mens agter dat sy vokale reikwydte eintlik baie goed is. Weer eens sing hy van die Afrikaner se strewe om na homself om te sien. Van Hings is ‘n lekker snit, en hierop sing hy hoe maklik dit vir ‘n vrou is om ‘n man te verlei. Daai klein-dorpiegevoel is nog ‘n snit waarvoor Hanna die woorde gehelp skryf het. Hierin sing hy van ‘n meisie wat van die platteland af kom en wat hom daarna laat verlang. Ricus Nel speel konsertina op hierdie snit, en dit klink natuurlik baie goed. Die lirieke van Tref en trap laat jou lekker lag, maar ‘n mens weet nie of dit ‘n radiotreffer sal word nie. Dit is ook nie so seker of ‘n mens die woorde van Gebore om vry te wees ernstig kan opneem nie. Bok het die bekende treffer Ons vir jou Suid-Afrika saam gesing, en hierdie keer sing hulle Ek en my vlerk saam. Dit gaan oor twee mans wat beste vriende is, al stem hulle nie noodwendig saam oor alles nie. Vroumens is nog ‘n snit wat deur Christoph Kotze geskryf is, en , en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Huil soos ‘n man kom uit die rolprent As jy sing, waarin Bok die rol van ‘n sersant-majoor speel. Daarom is die feit dat klink soos ‘n peloton troepe wat marsjeer, nie ‘n verrassing nie. Pietman Geldenhyus het Bakbeen-anties vir die Huisgenoot-liedjieskryfkompetisie ingeskryf, en Valiant Swart sing dit saam met hom. Dalk sal ‘n CD van hulle twee ‘n goeie idee wees! Blou Bul snor is die laaste snit, en daarop sing Bok van die “oorspronklike Blou Bul”, Louis Schmidt, wie se seun Uli in die 1980’s en 1990’s vir die Blou Bulle en die Springbokke haker gespeel het.

Bok se aanhangers weet teen hierdie tyd presies wat om van hom te verwag, en soos gewoonlik stel hy hulle nie teleur nie. Hiedie album was dadelik ‘n topverkoper, en dit behoort nog lank een van die gewildste Afrikaanse albums te bly omdat daar nog ‘n hele aantal snitte is wat treffers kan word. As jy van Bok se vorige albums gehou het, sal jy ook hierdie een geniet!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.