Stella stel sielvolle nuwe musiekvideo bekend

Die musiekvideo van Stella, die sangeres en liedjieskrywer met die goue stem, se gewilde enkelsnit, “Die berge blou”, is pas uitgereik en neem die kyker op ʼn afskeidsreis vol deernisvolle oomblikke, wat die hart net soveel sal raak soos die lirieke en sielvolle vertolking van hierdie splinternuwe lied.

“’Die berge blou’ is een van my gunsteling-liedjies en ek wou al lankal ʼn video daarvan maak,” sê die sangeres wat verlede jaar getref het met die sielvolle liedjie, “Ek is ryk”, saam met Adam Tas. Die musiekvideo vir dié liedjie, wat deur Tas se maatskappy, Loopgraaf Films geskiet is, het reeds meer as 140 000 trefslae op YouTube.

“Die berge blou” is op Stella se debuutalbum, Nuwe môre, wat reeds in 2017 uitgereik is en beskryf kan word as modern en kontemporêr met ʼn bietjie pop- en folk-elemente. Die eerste enkelsnit en musiekvideo, “Nuwe môre”, is in April 2016 bekendgestel.

Albei is baie goed ontvang deur radiostasies, met ʼn plek in die top-20 van talle treffersparades. “Deur die liefde en die seer”, die tweede uitreiking, was net so gewild en die musiekvideo kan steeds gereeld op die kassie gesien word.

Stella vertel sy het “Die berge blou” saam met Jake Odendaal geskryf en dié nostalgiese snit gaan daaroor om iets of iemand te groet waarvoor jy lief is.

Christo Germishuys in 'n skermgreep uit die video.

Christo Germishuys in ‘n skermgreep uit die video.

“Die video beeld ʼn man, vertolk deur Christo Germishuys van Kaapsehoop Horse Trails, uit wat te perd reis, op pad om finaal afskeid te neem van die persoon aan wie hy vasgehou het. Ons wou graag, soos in die lied, die rede daarvoor uitlaat sodat elkeen sy eie storie daar kan invul, want ons almal moes al afskeid neem van iets of iemand,” vertel Stella.

Die Ghoema-benoemde videograaf, Paul Hugo van Ubuntu Visual, ook bekend as Bravo & Thatcher, het met die konsep vorendag gekom en die verhaal speel af by Kaapsehoop Horse Trails.

“Die omgewing is net asemrowend en is natuurlik ook in die berge! Hierdie is ook Christo se debuut as akteur en ek dink hy lyk soos ʼn man uit die Weste van Amerika wat al lank toneelspeel. Hy het goeie werk gedoen,” voeg sy by.

Hoewel daar sekere uitdagings was met die opname van die video van “Die berge blou”, het Stella die ervaring baie geniet.

“Ek het dit só geniet om die projek saam met Paul en Janus de Villiers aan te pak. Op die dag wat ek my dele moes opneem, was dit baie mistig met motreën wat toe eintlik perfek pas by die nostalgie van die lied,” sê sy.

Stella, oftewel Christelle Combrink, is beslis geen nuweling in die musiekbedryf nie. Sy is deel van die gospelgroep, Duis:Lig, wat in 2015 ʼn Ghoema-toekenning vir beste gospelalbum gewen het en onlangs weer vir dieselfde toekenning benoem is. Die groep het ook reeds twee Huisgenoot Tempo-benoemings ontvang.

As sangeres is sy self ook benoem vir twee Samas en ʼn Huisgenoot Tempo-toekenning onder haar vorige verhoognaam, KrissTel. Wanneer sy nie haar lyf musikant hou nie, is sy ʼn boervrou op hulle plaas naby Carolina en ma van ʼn tweejarige dogtertjie. Sy is ook medebestuurder van die gastehuis en trou-venue Acorn Guest Farm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Asjas ·

Mal oor hierdie lied, pragtige stem en stunning video. Welgedaan Stella!

Jannie ·

Dit is n pragtige video en musiek. Die area en woorde bring soveel mooi herinneringe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.