Stellenbosch warm op vir internasionale klaviersimposium

Kaapsted Filharmoniese Orkes (KFO) onder leiding van Bernard Gueller. (Foto: Verskaf)

Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium, wat sedert 2006 tweejaarliks by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasvind, wil vanjaar weer die voorste klavieronderwysers en studente bymekaarbring vir ʼn fees van lesings, openbare meestersklasse en konserte.

Hoewel dié simposium hom voorheen hoofsaaklik op universiteitstudente toegespits het, word die fokus in 2024 uitgebrei om ook aan hoërskoolleerders en musiekonderwysers verskeie opleidingsgeleenthede te bied.

Alle konserte sal in die Endlersaal by die musiekdepartement van die US aangebied word. Die openingskonsert op Woensdag 3 April word deur die internasionaal bekroonde konsertpianis Jan Jiracek von Armin gehou. Von Armin is ʼn gasprofessor aan die Elisabeth Universiteit in Hiroshima, Japan, en ook ʼn besoekende professor aan die Yale Universiteit in die VSA.

Gehore kan op Vrydag 5 April naderskuif vir die Finse pianis Henri Sigfridsson, ʼn professor aan die Essen Folkwang Universiteit, se solouitvoering. Hy was onder meer ʼn medaljewenner in die Geza Anda-klavierkompetisie in Zürich in 2000 en dit het tot ʼn wêreldwye gewildheid onder gehore gelei.

Musiekliefhebbers wat na iets ongewoons op soek is, kan uitsien na die immergewilde Klavierextravaganza wat op Sondag 7 April plaasvind.  Die gehoor sal op interessante klavierensembles van gewilde klassieke werke getrakteer word en die program bou op tot ʼn hoogtepunt waar 10 klaviere gelyktydig op die Endlersaal se verhoog sal verskyn.

Jong ontluikende pianiste sal op 1 en 2 April tydens solorondes meeding en bywoning vir dié sessies is gratis. Deelnemers wat na die finale ronde van die Hennie Joubert-klavierkompetisie deurdring, sal op 6 April saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO) optree. Kaartjies vir die finale ronde is by Webtickets beskikbaar.

Die Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie is in 1984 gestig met die doel om jong pianiste vir groter kompetisies en ʼn konsertloopbaan voor te berei.  Dit word sedert 2012 aangebied onder die vaandel van die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium, in samewerking met die KFO, onder leiding van maestro Bernhard Geuller.

Besoek die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium se webwerf om meer oor die volledige program, kaartjieverkope en aansoekvorms vir meestersklasse te wete te kom. Die sluitingsdatum vir inskrywings om aan die meestersklasse deel te neem, is 15 Maart. Kaartjies is ook op Webtickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.