Stem nou vir jou gunstelingsanger in die Aitsa-toekennings

Die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings se nominasies vir album van die jaar. Foto: Pretoria FM se Facebook-blad.

Die Afrikaanse musiekbedryf is besig om hulle vere reg te skud vir die eerste Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings wat op 16 Oktober in die Jakarandastad sal plaasvind.

Die Aitsa-toekennings se hart klop die ene Afrikaanse musiek en wat dit boonop nog lekkerder maak, is dat dié inisiatief van Pretoria FM beloof om ʼn spoggerige onafhanklike, deursigtige en geloofwaardige toekenningsgeleentheid te wees. Dit word sonder die inmenging of voorskrifte van instansies of individue aangebied.

Demi Lee Moore, Nadine, Ruhan du Toit, Ricus Nel, Snotkop, Dewald Wasserfall, Juan Boucher, Steve Hofmeyr, Ghapi, Adam Tas, Kosie Beukes, EarlyB, Elandré, Pietman Geldenhuys, Corlea, Monique, Liezel Pieters, Danny Smoke en Elvis Blue is van die sangers wat by die toekenningsgeleentheid by die Moreleta-ouditorium in Pretoria sal optree.

Talle baanbrekers in die Afrikaanse musiekbedryf sal ook die aand vereer word, terwyl ʼn spesiale gilde vir die Afrikaanse kuns‑ en kultuurbedryf bekendgemaak sal word.

Meer as 300 inskrywings van liedjies, albums en musiekvideo’s is ontvang vir die eerste ronde van hierdie splinternuwe Afrikaanse musiekpryse.

Die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings se nominasies vir kunstenaar van die jaar. Foto: Pretoria FM se Facebook-blad.

Twaalf beoordelaars het koppe bymekaargesit om die finaliste vir nominasies aan te wys en nou het jy as leser kans om tot kort voor middernag op Sondagaand 29 September vir jou gunstelingsangers en ‑musiekgroepe te stem.

Dié kategorieë waarvoor stemme uitgebring kan word, is album van die jaar, kunstenaar van die jaar, gewildste liedjie van die jaar, musiekvideo van die jaar en nuweling van die jaar.

Van die kunstenaars in die kategorieë wat genomineer is, sluit in Demi Lee Moore, Jo Black, Refentse, Tarryn Lamb, Jan Blohm, Juan Boucher, Spoegwolf, Snotkop, Almero Welgemoed, Hanco en Elandré.

Elkeen van die kunstenaars, liedjie, album of video het ’n kode. Lesers kan na die lys op www.pretoriafm.co.za gaan kyk en hul gunsteling se betrokke kode na 45689 SMS. Slegs een stem per unieke kode word toegelaat.

Volgens Hennie Koortzen, uitvoerende hoof van Pretoria FM, beloof die toekenningsgeleentheid om ʼn wêreldgehalte-vertoning te wees waartydens erkenning ook aan legendes in die Afrikaanse musiekbedryf gegee sal word.

Kaartjies vir die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings is by www.itickets.co.za beskikbaar en beloop R150 per persoon.

Só kan jy stem vir jou gunsteling sanger, album of liedjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Mag daar volgende jaar minder bekendes op die lys wees soos onder andere Stephan Visagie wat die land aan die brand sing en sy eie liedjies sing. Dan is daar Ernie Bates en baie andere wat geen erkenning kry vir hul bydrae in Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.