Steve, Armand wy nuwe Weiveld-teater in

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

ʼn Splinternuwe teater maak eersdaags sy deure oop in die ooste van Pretoria en beloof om groener weivelde te bied vir Suid-Afrikaanse kunstenaars en musiekondersteuners wat weens die Covid-19-inperkingsregulasies al byna ʼn jaar lank aan die agterspeen van die ekonomie suig.

Die Weiveld-teater is ʼn uitbreiding van Weiveld, die gesogte dans-en-kuierplek. “Ons wil die geleentheid vir kunstenaars skep om op te tree en weer ʼn inkomste te kan verdien,” sê Mihai Nicolau van Bronberg Hub, waar Weiveld geleë is.

“Dit is klein en intiem en voldoen aan die nuwe, hersiende inperkingsmaatreëls wat op 28 Februarie aangekondig is.”

Die teater se program skop in April op ʼn hoë noot af met Steve Hofmeyr wat Donderdag 1 April die teater sal inwy.

“Ek is verheug om ʼn bietjie uit te kom en weer saam met my mense te kuier,” het Steve opgewonde gesê.

Sy seun, Armand Hofmeyr, sal ook in aksie wees tydens die voorprogram en dit beloof om ʼn aand van musiekgenot vir die hele gesin te wees.

Appel is Donderdag 15 April en Roan Ash Donderdag 29 April by die teater te sien. Vertonings bied die volle teaterervaring met streng Covid-19-protokol wat te alle tye gevolg sal word.

Kaartjieverkope kan hier bespreek word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.