Steve en Kie. hou konsert by Voortrekkermonument

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het hande gevat met die sanger en aanbieder Jak de Priester om ʼn konsertreeks aan te bied wat ʼn hulpprogram vir Afrikanermonumente sal ondersteun.

Die Hier Staan Ons-konsertreeks, met De Priester as gasheer, skop op 16 Junie met Steve Hofmeyr as gaskunstenaar af. Die konsert sal aanlyn uitgesaai word terwyl die sangers reg voor die ingang van die Voortrekkermonument optree. Die Voortrekkermonument self sal ook as “skerm” dien vir dié konsert.

Die FAK het onlangs as deel van sy geskiedenisfonds ʼn omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekendgestel om dié instellings se finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Deel van die hulpprogram is nie net finansiële steun uit die FAK se geskiedenisfonds aan monumente in nood nie, maar ook dié reeks aanlyn konserte en die uitreik van kultuurkaarte aan FAK-vriende. Deur middel van dié kaarte sal FAK-vriende agtergrondinligting kry oor verskeie historiese plekke, ʼn roetekaart na monumente en ook afslag met toegangsgelde.

“Deur op dié wyse erkenning aan ons Afrikaanse legendes te gee en die belangrikste historiese dae van ons erfenis te gedenk, kan ons ook geld insamel vir die FAK-geskiedenisfonds wat ten doel het om Afrikanermonumente te help,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, oor die Hier Staan Ons-konsertreeks.

Op 16 Junie 1900 is die Verskroeideaardebeleid tydens die Anglo-Boereoorlog aangekondig. Meer as 22 000 kinders het as gevolg van die beleid in konsentrasiekampe gesterf en duisende plase en dorpe is afgebrand.

“Ons mag dít nie vergeet nie,” voeg Langner by.

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Volgens Hofmeyr beplan hy om liedjies soos “Pampoen”, “Suikerbossie” en “Sarie Marais” te sing asook verskeie ander FAK-liedjies en enkele patriotiese liedjies.

Afgesien van sy bekendste liedjies wat die gehoor kan hoor, vra De Priester hom ook uit oor sy musiekloopbaan wat al oor meer as drie dekades strek.

“Monumente dra nie maskers nie en daarom samel ons geld in vir ons monumente wat ʼn bietjie olik begin lyk. Sonder dat jy jou huis verlaat, is jy ons eregas; vlak voor ons erfeniskolos, die Voortrekkermonument. Ek sing, jy braai, punt,” sê Hofmeyr.

Joe Engels van Xtreme Productions, wat hierdie konsert moontlik maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument self as “skerm” sal dien waarteen dié konsert geprojekteer sal word.

“Konserte is oor die jare heen al op verskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar is nog nooit op dié monument self lewensgroot vertoon nie. Dié monument beslaan 1 600 vierkante meter en is 40 m x 40 m groot. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien,” sê Engels.

Jak de Priester. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Covid-19 het ons gewys dat bakens, sakeondernemings en tydskrifte wat nog ons hele lewe saam met ons was, skielik net nie meer daar is nie. Ons erfenisterreine en monumente staar presies dieselfde gevaar in die oë. Kan jy jouself dit voorstel: ʼn Pretoria sonder ʼn werkende Voortrekkermonument of die Paarl sonder die lieflike Taalmonument of Bloemfontein sonder die Vrouemonument?” sê De Priester.

Die Voortrekkermonument is een van die plekke wat moontlik sy deur kan sluit weens ʼn verlies aan toerisme-inkomste nadat die nasionale staat van inperking ingestel is.

“Monumente is inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat sy deure moet sluit, is nie net ʼn langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ʼn kultuurhistoriese ramp.

“Die staat gaan nie ons monumente help nie. Afrikaners sal self verantwoordelikheid moet aanvaar om in krisistye ons geskiedenis vir ons nageslag te bewaar. Die kultuurkaarte is nie net praktiese bemarkingshulp van ons monumente om meer voete te lok nie, maar saam met finansiële ondersteuning ʼn daadwerklike poging om ons erfenis se deure oop te hou.”

Kaartjies vir die eerste Hier Staan Ons-konsert op Dinsdag 16 Junie kos R50 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tienie ·

Mooi so.

Julle twee is groot staatmakers.

Mag dit n ongelooflike groot Sukses wees….

Raadslid ·

Dit gaan lekker wees, sien uit daarna.

Daar is baie meer as 11 000 vrouens in die kampe oorlede. Totaal in kinders en vroue wat gesterf het was 33 000, daarom glo ek die 22 000 kinders wat aangedui word is te hoog. Behalwe as daar nuwe inligting rakende die sterftes is.

Toergids ·

Gemeenskappe moet besef dat hul erfenis is hul verantwoordelikheid, hierdie monument asook ander Afrikaner bakens vertel ons storie aan die toeris en nageslag, hierdie is ‘n pragtige inisiatief.

frank ·

Mooi so, alle sukses.Die foto hierbo van Steve.Ek sal vir hom geld skenk om n beter Trump kuif te koop vir die konsert .OF WAT VAN N VLEISKYF soos ek.

BoerSonderRoer ·

Na ‘n jaar se emmigrasie is hierdie die eerste keer wat ek na ‘n aangeleentheid in SA kyk en wens ek kon daar wees.

Genis ·

Bravo vir die twee manne… mense moet nou hulle kant bring en ondersteun!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.