Steve en vriende nou te sien in Country is Groot-konsert

Steve Hofmeyr. (Foto: Verskaf)

Steve Hofmeyr. (Foto: Verskaf)

Die uiters gewilde sanger Steve Hofmeyr se vertolking van ou countrygunstelinge vind al jare lank aanklank by gehore en nou kan aanhangers uitsien na ʼn Country is Groot-vertoning, met Steve en vriende.

Dié konsert sal op 26 April in Pretoria plaasvind. Hofmeyr sal saam met Demi Lee Moore, Riana Nel en Ricus Nel op die verhoog hulde bring aan countrylegendes.

Hofmeyr het onlangs weer bewys dat hy in dié genre die hartsnare bly roer. Sy jongste album, The Country Collection, het binne enkele dae nadat dit op die rak was platinumstatus bereik. Op dié album, wat reeds die afgelope drie maande sedert dit uitgereik is topverkoper in winkels landwyd is, vind aanhangers Hofmeyr weer in ʼn baie sentimentele genre, naamlik country, wat hy oudergewoonte treffend vertolk.

“Ek is dankbaar vir elkeen wat dié album gekoop het en kan nie wag vir dié konsert nie,” het Hofmeyr luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Maak jou gereed vir ʼn aand vol van jou gunsteling-countryliedjies,” het hy bygevoeg.

“Amanda”, ʼn duet saam met Demi Lee Moore, wenner van die VIA-program Die Kontrak, het onlangs die land aan die gons gehad en kort nadat Hofmeyr die musiekvideo vir dié duet op sy Facebook-blad gedeel het, is dit meer as ʼn miljoen keer gekyk.

“Dit is só ʼn groot eer om die verhoog saam met Steve te kan deel,” het Moore luidens die verklaring gesê.

“Nadat Steve my verlede jaar genader het om die duet saam met hom te doen, was ek stomgeslaan oor die reaksie daarop. Ek kan nie wag om dit nou saam met hom by dié groot produksie te doen nie,” het sy gesê.

Riana Nel het in ʼn video wat sy op sosiale media gedeel het, gesê dié konsert is ʼn baie goeie idee. “Wat is beter as ʼn paar van jou gunstelingkunstenaars én jou gunstelingliedjies?” het sy gesê.

“Ek gaan ʼn paar van my Don Williams-gunstelinge afstof om konsertgangers mee te bederf,” het Ricus Nel gesê.

Country is Groot, met Steve en vriende, vind plaas op Vrydag 26 April om 19:30 by die Sun Arena by Time Square in Pretoria. Kaartjies is slegs aanlyn by Computicket of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.

Een van die liedjies op die Country Collection, klink en lyk so. Amanda, gedoen deur myself en Die Kontrak-wenner, Demi-Lee Moore. Kom loer in by Afrikaans is Groot (as jy plek kan kry) of kom sien ons in Hartenbos.

Posted by Steve Hofmeyr on Monday, November 26, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Ek wens so ons kon meer van die man gekry het in die bedryf.

wonder ·

Kan hy nie maar ook ons ridder op die wit perd word en ons land red nie???

Gemaskerde Sopbeen ·

hahahaha….die “Afrikaners” se tradisionele leier!! As jy sy CD’s agteruit speel kry jy ‘n potjiekos resep…

Snip van Joburg ·

Gelukkig hoef hy ni gemaskerde steve te wees ni. Duidelik waardeer jy ni goeie afrikaanse musiek ni SOPBEEN. Weet iemand waar kan mens kaartjies kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.