Steve Hofmeyr keer terug met country-album

Steve-Hofmeyr-country

Steve Hofmeyr sing weer country-musiek. Foto: Verskaf.

Nadat hy in die verlede hoofsaaklik sukses met Afrikaanse en Engelse pop- en rockmusiek behaal het, keer Steve Hofmeyr terug na ʼn genre wat hy laas in 2008 met sy Kris Kristoffersen- huldeblykalbum, Help Me Make it through the Night, gesing het, naamlik country.

Steve se 28ste album, If You Could Read My Mind, bevat verskeie bekende oorsese treffers en hoewel nie almal noodwendig as country beskou kan word nie, het hy tog besluit om dit in daardie styl op te neem. Die bekroonde Juan “Floors” Oosthuizen, wat vanjaar  ʼn kykNET Ghoema-toekenning gewen het, was die regisseur van die album.

Steve is regtig opgewonde oor hierdie projek wat hom na aan die hart lê. Volgens hom “spook” die liedjies wat hy ingesluit het by hom, en is dié wat nie regtig country is nie, in hierdie styl verwerk.

Kunstenaars soos Cliff Richard, Steve Perry (die voorsanger van die rockgroep Journey) en Bob Dylan sal beslis wonder hoe hul musiek op ʼn country-album beland het, maar Steve het dit tog ingesluit. Steve vertel dat hy en Juan heeltyd geglimlag het terwyl hulle Kenny Rogers se verhale, The Eagles se harmonieë, Glenn Campbell se klassieke aanslag en Dobie Gray se soul-klank herontdek het. Dit was, volgens hom, nie nodig om die wiel van voor af uit te vind nie.

Onder die snitte wat Steve se aanhangers op die album kan verwag, is  “Heartache Tonight” van The Eagles, “Have You ever Seen the Rain?” van Creedence Clearwater Revival, “Drift Away” van Dobie Gray, “Cry to Me” van The Staccatos, “Oh Sherrie” van Steve Perry, “Hey Mr. Dream Maker” van Cliff Richard en bekende country-treffers soos die titelsnit, ʼn treffer vir Gordon Lightfoot, “The Gambler” van Kenny Rogers, “I Recall a Gypsy Woman” van Don Williams en Glenn Campbell se treffer “Rhinestone Cowboy”.

Hierdie album is sedert 6 November beskikbaar op iTunes asook in musiekwinkels landwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

alida ·

MOOI SO STEVE !!! Kan nie wag vir jou nuwe CD nie. Die afrikaanse musiekfeeste het gou agtergekom die konserte kry nie veel aftrek as Steve nie daar is nie. Hoop julle het ‘n les geleer !!!

alida ·

Afrikaanse country musiek is nie so mooi soos die engelse weergawes nie.

alida ·

Steve kan vir my part in enige taal sing. Hy bly tops en is nie so kommin soos baie van ons eie afrikaanse sanger/esse nie.

charmaine ·

Stem saam Alida. Hy gaan verseker in my inkopie mandjie wees.

Ruby ·

Die Kris Kristoffersen huldeblyk is regtig ‘n goeie album, ek het die dvd en dit gaan kyk by Carnival City.

Kan nie wag vir hierdie album om op die rakke te verskyn.

Ek ondersteun Steve as kunstenaar beslis.

alida ·

Dankie julle ouens dat julle saamstem. Steve het klas en styl wat bitter min van ons ander kunstenaars kan sê. Sy privaatlewe word nie op in elke koerant en tydskrif gepubliseer nie. Kommin goed !!!

Sylvia du Plessis ·

Stem saam met Alida. Dankie Steve vir nog ‘n nuwe album. Kan nie wag.

Rian ·

Ek stem saam, maar Steve, wees meer oorspronklik en begin weer hou eie songs skryf en ophou om nagedagtes te sing! Almal doen dit?? Ek dink jy sal fantastiese songs kan maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.