Steve oor 31ste album: ‘Dit voel nes die eerste keer’

Sy 30ste vollengte album, Skree, het einde verlede jaar goue status bereik nog voordat die album op winkelrakke beskikbaar was. Nou het Steve Hofmeyr dit wéér reggekry met sy 31ste album getiteld The Country Collection.

Hofmeyr het Woensdagmiddag dié album, wat eerskomende Vrydag amptelik vir aankoop beskikbaar sal wees, eksklusief op PretoriaFM bekendgestel en Maroela Media het saamgekuier.

“Dit wys jou hoe die tyd verbygaan,” sê hy toe hy terugdink aan die dag in Oktober verlede jaar toe hy Zambezirylaan in Pretoria tot stilstand gebring het om die musiekvideo vir “Feeslied” te skiet. Dié video het ʼn opskudding veroorsaak en is sedertdien meer as 1,3 miljoen keer op YouTube gekyk.

“Ek kan nie meer konsert hou sonder om “Feeslied” te sing nie. Net soos “Pampoen”, “Die Bloubul” of “Die Stem” – die mense skree altyd daarvoor by die konserte. Ons het so bietjie vinnig gekom met die nuwe album ná Skree, en daarom sal my country-toer die grootste treffers van Skree insluit.”

Hy vertel hy het eers later in sy lewe van musiekgenres soos jazz, opera, klassieke musiek en heavy metal begin hou. “In my grootwordhuis het ons na rock en country geluister. Die ander genres is nooit in ons huis gespeel nie. Jy kan in elk geval nie net in heavy metal‑musiek land sonder om eers deur country te gaan nie,” lag hy.

Steve het Woensdag sy album bekendgestel by Pretoria FM. (Foto: Verskaf)

Steve het Woensdag sy album bekendgestel by Pretoria FM. (Foto: Verskaf)

“Ek sal countryliedjies opneem tot ek eendag blou in die gesig is. Solank ek elke nou en dan ʼn oorspronklike album kan uitbring, is ek gelukkig om ʼn bietjie terug te val op die liedjies wat net blywend is van aard – en dit is countrymusiek.”

Hy gee toe dis maar moeilik om te besluit watter liedjies die album gaan haal. Hy moes dié album uit ʼn lys van sowat 80 liedjies saamstel.

“Ek dink jy gaan maar met die wat jy die beste ken en sekere ouens gaan jy twee keer moet sing, soos Kenny Rogers. Hy het net die beste countryliedjies uitgebring. Ek het doelbewus probeer om Neil Diamond en Kris Kristofferson te vermy, omdat ek al huldeblyke aan elkeen van hulle op albums gedoen het.”

Hofmeyr benadruk dat dit belangrik is om nie te ver van die oorspronklike treffer af te wyk nie, om soveel as moontlik die wese van die liedjie te behou. “Mense dink jy stap by die ateljee in en sing ʼn klomp liedjies wat jy ken. Dit is nié die geval nie. Jy wil ietsie van jouself by die liedjie inbring, maar gelukkig kom jy met jou eie stem. Jy kan nie te veel aan die liedjies peuter nie, want dan raak hulle alternatief en gaan te ver weg van die grense wat die liedjie die treffer gemaak het wat dit is.”

Tog het hy hom nie tot countrymusiek beperk nie. “Wat ek wel gedoen het, is om ʼn rockliedjie of ʼn ballade te vat, iets soos “My Way” wat glad nie ʼn countryliedjie is nie, en dit by die country-genre in te trek. Jy kan. Ek het “Dancing in the Dark” van Bruce Springsteen gedoen. Hy sal sterf as hy moet hoor sy musiek is country!” skerts hy.

Steve teken sy aandenkingsboek vir een van die gaste. (Foto: Verskaf)

Steve teken sy aandenkingsboek vir een van die gaste. (Foto: Verskaf)

“Ek sou dink dat ʼn kunstenaar op my ouderdom, wat homself ʼn volksdigter noem, eintlik luister na dieselfde musiek as die mense wat dit koop. So ek en die publiek daar buite deel baie van dieselfde goed – ons deel dieselfde sentimente oor ons kultuur. Daarom is dit nie vir ons vreemd as Afrikaanses, wat vir die Afrikaanse taal baklei, almal gelyk ʼn Engelse country CD koop nie, maar dan moet jy die regte liedjies kies. Ek sê altyd daar is niks meer Afrikaans as “Cry to Me” en “Sweet Caroline” nie.”

Hy kan ʼn paar persoonlike gunstelinge op die album uitsonder. “Bob Seger se “You’ll accompany me”. Dan ook “Woman beautiful woman” – dit is so nowhere liedjie, maar ek het soveel gevoel daarin gestoot toe ons dit opgeneem het, dat dit een van my gunstelinge geword het. Toe staan ek daar by die ateljee rond en Demi Lee Moore van Die Kontrak stap verby en ek sê vir haar: ‘Kom doen gou vir my een, twee sinnetjies van “Amanda”’. Nou kan ek nie ophou luister daarna nie.”

“My Way” van Frank Sinatra is ook van sy gunsteling op die nuwe album. “Dit is nie ʼn countrylied nie, maar dis ʼn enorme, magiese lied om op te neem. Ek dink nie jy moet eers daaraan dink om dit te sing totdat jy 50 is nie, want jy moet darem so bietjie speling hê,” sê hy met ʼn vonkel in sy oog.

“Jy weet, as jy dit eers gaan opneem, is dit die een wat hulle by jou begrafnis gaan speel. Ek het net weer agtergekom hoekom sekere liedjies tydlose classics is.”

Steve se country-toer skop op 8 Desember by die Cowhouse Market in Pretoria-Oos af. “En dan toer ons vir die jaar. Die countrymusiektoere is gewoonlik die lekkerste toere, want dit is die tipe konsert wat enige plek welkom is.”

En hoe voel dit om ʼn kopie van sy 31ste vollengte album in sy hande te hou? “Dit voel ongelooflik. Dieselfde as die eerste keer – toe die plaat nog uitgekom het. Jy bekyk dit so en dink: Ek sal nóg van hierdie wil maak.”

The Country Collection sal op Vrydag 23 November beskikbaar wees vir aankope op alle digitale musiekplatforms asook by groot musiekhandelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pensioenaris ·

Ai Steve, Jy bly maar n goeie sanger en n pragtige mens. Doen so voort. Wens ek kan jou persoonlik ontmoet en n drukkie gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.