Steyn benoem op JPO-raad

Carolyn Steyn (Foto: Verskaf)

Carolyn Steyn, die Johannesburger wat onlangs as nuwe raadslid van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JPO) aangestel is, is opgewonde oor dié nuwe geleentheid.

“Dit is ʼn groot eer om deel van die JPO se bestuursraad te word,” sê sy. “Ek sien uit daarna om ʼn bydrae te lewer en om voort te bou op die belangrike bydrae wat die orkes lewer.

“Om die orkes te sien optree is een van die verrykendste en lonendste ervarings. Die werk wat hulle doen is belangrik, nie net vir kunstenaars nie, maar ook vir die gemeenskap.”

Steyn, ʼn filantroop, aktrise, radiopersoonlikheid en beskermvrou van die kunste, het meer as vier dekades se ervaring in die kunstebedryf. Haar aanstelling is deur Bongani Thembe, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die JPO-raad, verwelkom.

“Dit is ‘n belangrike aanstelling vir die JPO,” sê hy. “Steyn het reeds ʼn onmisbare bydrae tot die kunstebedryf gelewer deur innoverende projekte wat ʼn positiewe uitwerking op mense se lewens het.”

Die JPO-raad staan onder die leiding van Dikgang Moseneke, voormalige adjunk-hoofregter.

Steyn het onlangs R250 000 aan die Teaterbystandsfonds geskenk. Sy het ook ongeveer R100 000 aan die Feed Our Crew-inisiatief gegee om kunstenaars, tegnici en vryskutwerkers wat die hulp nodig het, te ondersteun.

Sy het in heelwat plaaslike en internasionale verhoogproduksies opgetree, onder meer I, Anastasia, Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, Betrayal, Private Lives, Shadowlands, We All Fall Down en Die swerfjare van Poppie Nongena. Sy het ook rolle vertolk in televisieprogramme soos Generations, Melrose Place en Babylon 5 asook in die flieks Blessers en Zulu Wedding.

Steyn het voorheen by 5FM en Radio Today gewerk. Sy was saam Anele Mdoda, Shashi Naidoo en Michael de Pinna aanbieders van die televisiereeks Tongue in Cheek wat op SABC3 uitgesaai is.

Steyn bied tans Classic Lunch aan, ʼn weeklikse radioprogram wat op Classic FM uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.