Stilte en storms- Elizma Theron

Stilte en stormsSedert die vrystelling van haar vierde album, Op pad na jou, het baie dinge in Elizma Theron se lewe gebeur.
Sy het deel van die groep 4 Werke, saam met Ray Dylan, Monique en Nicholis Louw geword, en saam het hulle al twee uiters suksesvolle albums opgeneem. Daarby is sy getroud en het is haar eersteling onlangs gebore. Nou is sy egter terug met ‘n nuwe album, Stiltes en storms.
Die eerste snit op die album, My hart bloei vir jou, is die eerste treffersnit, en een van die heel beste snitte wat sy tot dusver opgeneem het. Dis goed om te sien dat daar al hoe meer liedjies is met lirieke wat meer as “bokkie en baby” om die lyf het. Daarby kan ‘n mens agterkom dat sy as kunstenaar gegroei het. Neil Schoombee en Pierre Rossouw het Trane geskryf; dit is nog ‘n baie goeie snit wat ‘n treffer kan word. Nicholis Louw sing Sout saam met Elizma; al is hulle albei deel van 4 Werke het hulle ook al saam ‘n treffer met Kom ons vat ‘n kans gehad. Dit was trouens die liedjie wat Elizma se deurbraak in die musiekbedryf bewerkstellig het. Die volgende twee snitte verskil heeltemal van mekaar. Die woorde van Hoekom kom jy terug vir meer spreek vanself, en baie mense kan hulle daarmee vereenselwig. Soen of nie is ‘n baie lekker snit; die ritme is uiters aansteeklik en veral jonger luisteraars sal mal wees daaroor. As daar een snit is wat gereeld oor die radio gespeel móét word, is dit hierdie een! Die twee grootbase van Elizma se platemaatskappy het Dink jy nie meer aan my saam geskryf, en dis goed dat hulle hierdie keer ‘n liedjie met iets om die lyf geskryf het. Op In ons kombers toegevou kan ‘n mens agterkom dat Elizma ook ballades kan sing; dit is ‘n baie mooi snit maar ‘n mens moet maar wag en kyk of dit ‘n radiotreffer gaan word. Op Ons skryf ons stories vertel Elizma van mense se lewensverhale, sommige daarvan gaan oor mense met wie dit nie goed gaan nie, maar wat steeds positief bly. Souvenir is nog ‘n lekker snit wat ‘n treffer behoort te word. Dit is wel ‘n oorsese melodie waarvoor Neil Schoombee die Afrikaanse woorde geskryf het, maar vir ‘n verandering maak dit nie saak nie.
Elizma het gehelp om die mooi snit Giftige woorde te skryf; dit is ‘n pragtige snit wat verdien om ‘n treffer te word. Engiemand wat nie ‘n ander keuse gehad het as om voort te gaan te mide van moeilike omstandighede sal hulle kan vereenselwig met Dans op die hartseer. Elizma het Deur die deur saam met Neil Schoombee geskryf, en weer eens wys sy dat sy ‘n goeie liedjieskrywer is. Nog ‘n snit wat sy gehelp skryf het, hierdie keer saam met Vaughan Gardiner, is die pragtige Ek hoor hoe jou hart breek. Een van die lekkerste musiekrolprente van die afgelope tien jaar of wat, was Walk the line, wat Johnny Cash se lewensverhaal vertel het. Elizma sing ‘n keurspel van drie liedjies wat Johnny saam met sy vrou, June gesing het, saam met Ricus Nel, naamlik Time’s a wastin’ (die toneel in die rolprent toe Joaquin Phoenix en Reese Witherspoon dit in die rolprent gesing het, was ‘n hoogtepunt), Jackson (nog ‘n hoogtepunt uit die rolprent) en Jukebox blues. Nagelaat is ‘n mooi snit waarop sy vertel van ‘n ma wat nie vir haar kind van Jesus vertel het nie. Hierdie snit laat ‘n mens dink.
In die verlede was daar ‘n paar redes om Elizma se musiek te kritiseer; die lirieke van Lapaside was uiters naïef, Ek soek jou was swak Afrikaans (dit moes Ek soek na jou gewees het) en daar is te veel lirieke in Op pad na jou herhaal. Goed, sy het darem ander goeie snitte opgeneem wat tot ‘n mate hiervoor vergoed het. Hierdie keer moet ek eerlik wees: Elizma het geweldig as kunstenaar en sekerlik ook as mens gegroei en sy het sonder twyfel met haar beste album tot dusver vorendag gekom. Die feit dat sy byna dadelik ‘n plek op die amptelike trefferslys gebaseer op albumverkope losgeslaan het, behoort niemand te verbaas nie, en ek hou regtig duim vas dat sy lank daar sal bly en beter as ooit sal vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.