#StopHonger gaan ook groot by Afrikaans is Groot

Sanger Monique Steyn is ’n ambassadeur van #StopHonger. Foto: Okay Deer.

Helpende Hand is opgewonde om aan te kondig dat sy #StopHonger-veldtog by die Afrikaans is Groot-konsertreeks ’n produk gaan bekendstel om hongersnood onder kinders volhoubaar aan te pak en terselfdertyd werkskepping aan te wakker.

Volgens René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie, sorg Helpende Hand tans dat 8 000 behoeftige kleuters elke skooldag ’n gesonde bord kos kry deur #StopHonger se Kosblikkie- en HelpJag-projek.

“Die behoefte is egter groter en ons het aansoeke ontvang wat al strek om nagenoeg 12 000 kinders daagliks te voed,” sê Roux. “Om dié rede en om veral ons Kosblikkie-projek meer volhoubaar te maak, gaan ons tydens Afrikaans is Groot later vandeesmaand in Pretoria, ons StopHonger-proteïenontbytstafie bekendstel om hongersnood onder kleuters te bekamp.”

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, verduidelik die StopHonger-proteïenstafie is gebore uit ’n bekommernis dat die Kosblikkie-projek nie volhoubaar sal wees as Helpende Hand deurlopend, én met die groeiende nood, fondse en donasies moet insamel nie.

“Om dit volhoubaar te maak moet ons deur #StopHonger ’n berekende besigheidsinisiatief op die been bring. Ons wil nie graag hê ons kinders moet bedelaars wees nie en ons by Helpende Hand wil ook nie bedel om hulle nié bedelaars te maak nié. Helpende Hand wil graag aanhou voorsien waar nodig en steeds die kleuterskole help wat by die Kosblikkie-projek baat. Die maklikste manier om dit te doen is om selfonderhoudend te word. Dit is juis die StopHonger-stafie se doel om te sê dat ons wil ’n stafie verkoop en dan ons kinders met die inkomste versorg en ook voed,” sê Noëth.

Noëth sê Helpende Hand betree dus die kommersiële mark om nie net bekostigbare steun te vra nie, maar ook om iets terug te gee deur ’n voedsame produk van goeie gehalte te lewer by wie almal kan baat.

“Ons wil aan die een kant die vermoënde ouer bewus maak om met hul steun indirek te sorg vir die wat nie het nie. Ons wil ook vir die vermoënde ouer se kind die voorreg gee van ’n goeie gehalte peuselhappie wat hy of sy in sy kosblikkie kan kry. Só help ons mekaar en word die projek meer volhoubaar,” voeg hy by.

Noëth sê buiten die StopHonger-stafie beplan Helpende Hand ook nog ’n reeks van ander produkte, afhangend van hoe goed die stafie ontvang word. Een daarvan is reeds in samewerking met die oud-Springbok Bakkies Botha, wie se Bakkies the Butcher se Veld tot Vurk-produkreeks #StopHonger ondersteun, aan die gang.

Die stafies sal onder meer by Helpende Hand se landwye Ons Winkels beskikbaar wees en sal ook deur agente versprei word, wat op sy beurt weer as werkskepping dien.

“Ons benodig agente om saam te werk om te help verkoop, maar ons wil ook graag hê dat die publiek dit moet aankoop vir hul gesinne. Die StopHonger-stafie is ’n baie mooi samevatting van gemeenskapskrag en gemeenskapsgawes wat bymekaar kom om iets daar te stel wat produktief, maar ook volhoubaar is vir ons honger kleuters. Ons hoop die StopHonger-stafie word ’n gewilde handelsmerk wat geliefd en gewild is in ’n gemeenskap wat ’n verskil wil maak,” sluit Noëth af.

Roux voeg by die #StopHonger-handelsmerk is al goed gevestig in die Afrikaner-gemeenskap en dit is nou tyd vir die volgende stap.

“Ons is deur baie proe- en toetssessies en het uiteindelik op drie heerlike geure besluit – piesang en karamel; sonneblom- en pampoensaad; en mango, pynappel en klapper. Die produk is nie net lekker nie, maar ook gesond en met die aankoop van elke stafie stel dit ons in staat om ’n honger kleuter elke dag te voed,” sê Roux.

Om ’n agent te word of om solank vooraf die stafies te bestel, stuur ’n e-pos aan [email protected].

Besoek Helpende Hand se webwerf vir meer inligting oor #StopHonger of om ’n plegbelofte af te lê en te onderneem dat daar nie ’n kind honger gaan slaap nie.

Die StopHonger-stafies is beskikbaar in drie geure: Sonneblom- en pampoensaad; mango, pynappel en klapper; en piesang en karamel. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.