Storm in ‘n D-cup

Sarah Theron

Sarah Theron is terug met STORM in ‘n D-Cup! Met splinternuwe Afrikaanse Volkswysies om aan jou hartsnare te pluk, stuitige tong-in-die-kies Country-Blues, ‘n kragduet saam met haar gunstelingsanger, Manie Jackson, en haar grootste huldeblyke op aanvraag.

Sy vertel: “Ek het oor die laaste jaar 12 snitte gekies vir die nuwe album. Keuses het gekom na deeglike navorsing en volgehoue versoeke wat ek oor die laaste vyf jaar gekry het. Ek het groot geskenke ontvang van ons voorste skrywers: Fredi Nest, Riaan Swanepoel, Pieter Krugel en Alastair van Huyssteen. Ek’s baie, baie trots op hierdie album: Hier sing ek myself vry – en hopelik sommer ‘n paar ander mense ook! Ek het saam met die skitter-vervaardiger Murray Lubbe gewerk en was dadelik tuis. Dit was asof ons mekaar al jare ken; dus was daar baie vryheid en vir geen oomblik enige teruggehoude emosies in die vertolkings nie. Murray het my toegelaat om 100% myself te wees en het my vrye teuels gegee om daai note diep te gaan haal! Die speellys is gelyk verdeel tussen splinternuwe Afrikaanse liedjies en huldeblyk-versoeke.”

Die musiekresensent CJ de Swardt skryf: “Die resultaat is die bewys waarom Sarah die talle benoemings en toekennings – onlangs die Melodie-toekenning vir haar countrywerk – verdien! Of sy ballades, rock en pop of jazz en blues of country sing, sy doen dit voluit. Op dié album ontgin sy een van haar talle fortés: Country – met al dié genre se invloede, veral rock en gospel: vaardig en vernuftig.

Sarah se gróót stem klim, vat, swaai en ry die note hoog en laag. Dit is juis daardie lae-registerwerk wat ‘n warmte en andersheid aan van die bekende liedjies verleen en dit eiesoortig omskep met vernuwende luisterwaarde. Daar is bloot nie ‘n ander sangeres in die land wat Sarah Theron se vokale grootsheid kan oortref nie. Murray Lubbe is die verwerker en regisseur van dié puik album. Erkenning sal welverdiend wees!”

Laat die storm in jou losruk en daai diva in jou hooggety vier soos nog nooit tevore! (EMI)

Speellys

  1. Bietjie Meer Van Jou
  2. Skil Die Tamaties
  3. Storm In ‘n D-Cup
  4. Crying (duet met Manie Jackson)
  5. You Think You’re The Man
  6. Ek Wonder
  7. Bridge Over Troubled Water
  8. Doverstofie
  9. Purple Rain
  10. Bakke Vol Liefde
  11. Delta Dawn
  12. Gloryland

Musiekvideo vir My ouma Sêra van Sarah Theron se vorige album Sit die ketel aan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.