Straatligkinders terug met nuwe album

Straatligkinders.

Straatligkinders.

Die rockgroep Straatligkinders, wat ses jaar stil was, is terug op die Afrikaanse musiektoneel met ʼn splinternuwe album getiteld Verdwyn.

Die groeplede se lankverwagte album is amptelik bekendgestel ná die vrystelling van hul jongste enkelsnit, “Wonder”, en is opgeneem in hul tuisdorp, Potchefstroom, asook in Johannesburg en Pretoria.

Bouwer Bosch, voorsanger van die groep, het die eerste liedjie op die album geskryf en dié snit het die pas aangegee vir die nuwe rigting wat hul musiek inslaan. Die groep het saam die res van die album vir ongeveer drie maande geskryf en die opname van die album het sowat ses weke geneem.

Sewe verskillende vervaardigers, naamlik Ewald Jansen van Rensburg, Carlo de Villiers, Rudolph Willemse, Peach van Pletzen, Stefan Swart, Bouwer Bosch en Johann Oelofsenn, het aan die album gewerk.

“Die inspirasie vir die album was tyd,” het Bosch luidens ʼn mediaverklaring gesê. “Hoe tyd mense, lewensveranderinge en perspektiewe verander. Hoe ons as mense groei.”

Volgens die groeplede was hul grootste uitdaging met die nuwe album om ʼn middeweg te vind tussen hul swaar rock-klank van vroeër en meer gewilde melodieë soos daar deesdae oor die radio gehoor word.

“Wanneer dit by musiek kom, gaan dit nie oor uitverkoop nie, maar oor om in te koop, so ons het besluit om musiek te maak sonder om ons stem en wat ons wil sê in gedrang te bring,” het Bosch bygevoeg.

“Wanneer ʼn mens ouer word, moet jy baie goed afleer wat jy in jou jonger jare geleer het. Afleer was dus ʼn groot deel van die album met betrekking tot die manier van hoe ons oor liedjieskryf en opnames gedink het. Ons was baie oop om dinge anders te doen hierdie keer.”

Die groep se kenmerkend rou, emosionele lirieke en melodieë is steeds teenwoordig op Verdwyn. Aanhangers kan uitsien na eerlike, rou en relevante musiek en van die mees persoonlike liedjies wat die groep al ooit geskryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.