Stuur my- Dewald Gouws

Stuur myDie afgelope tyd was daar ‘n oplewing in Afrikaanse Christelike musiek, en al hoe meer kunstenaars is besig om tot hierdie musiekgenre toe te tree.
Een van die nuwer kunstenaars op die toneel is Dewald Gouws, wie se debuutalbum Verhaal van glorie, omtrent twee jaar gelede verskyn het. Hy het dit nou eindelik opgevolg met sy tweede album, Stuur my. Die eerste snit, ‘n Nuwe Halleluja, is ‘n komposisie van Carlé van Deventer, en dit behoort baie gewild te word. Dewald is ook ‘n goeie liedjieskrywer, soos hy op Jesus leef bewys. Dewald het die titelsnit geskryf na aanleiding van Jesaja 6 vers 8, waarin Jesaja hom bereid verklaar het om deur God gebruik te word. Die eerste Engelse snit op die album is It’s an amazing grace, wat die Christelike groep Bethel gekomponeer en oorspronklik gesing het. Die volgende snit, Grace, is deur een van die legenedes van Christelike musiek, Michael W. Smith, gekomponeer. Nog een van sy komposisies verskyn op die album, maar meer daaroor ‘n bietjie later. Laat ons stemme sing is ‘n baie goeie nuwe oorspronklike snit wat baie gewild kan word. Ware liefde is nog en van Dewald se oorspronklike komposisies, en hierin sing hy van sy vyfjarige dogtertjie. Glorious is ‘n komposisie van Paul Baloche, en is ‘n pragtige aanbiddingslied. Nog ‘n goeie internasionale snit wat Dewald ingesluit het, is My Redeemer lives, ‘n komposisie van Nicole C. Mullins.
Die boodskap van In Jesus Naam is dat Jesus enigiets kan doen vir diegene wat Hom as Verlosser aanneem. Gebed van ‘n kind is ‘n besondere snit, en glad nie so sentimenteel as wat ‘n mens sou dink nie. Worthy of all praise is ‘n lied waarin die mens se se nietigheid in vergelyking met wie God is, baie goed verwoord word. Rooftops is ‘n snit wat oorspronklik deur Jesus Culture gesing is, en ook al deur die plaaslike sangeres Rouchelle Liedeman gesing is. Twee van die bekendste aanbiddingsliedere is volgende: Chris Tomlin se pragtige How great is our God word deur verskeie gemeentes en denominasies gesing, en dit is maklik om te verstaan hoekom. Die oorspronklike Engelse weergawe is beter as die Afrikaanse een, en Dewald se opname sal maak dat dit aan ‘n nóg groter gehoor blootgestel word. Die musiekvideo van Chris Tomlin se oorspronklike weergawe verskyn hieronder. Die ander bekende aanbiddingslied is Michael W. Smith se bekende Above all, wat ook gereeld in gemeentes gesing word. I will pray for you is nog ‘n bekende snit, en beter as die Afrikaanse weergawe wat Pierre van der Westhuizen opgeneem het. Die laaste snit op die album is Gemma rose (tribute), en ‘n mens sou graag meer wou weet wat die storie agter dié liedjie, wat Dewald self geskryf het, is. Ongelukkig kon ek nie meer agtergrond opspoor nie.
Saam met die CD is daar ‘n DVD met twintig snitte wat deur kleingroepe vir samesang gebruik kan word. Die woorde van al die liedere kom op die skerm voor, en dit sal veral maak dat al hoe meer mense sy nuwe musiek sal leer ken. Onder die bekende snitte op die DVD is Piet Smit se Oorwinningslied, Amazing grace (my chains are gone) van Chris Tomlin en Oh I want to know You more van Steve Green. How great is our God en My Redeemer lives, wat op die CD voorkom, is ook op die DVD ingesluit, asook Dewald se nuwe snitte Stuur my, ‘n Nuwe Halleluja en die titelsnit van sy debuutalbum, Verhaal van glorie. Hierdie DVD alleen maak die CD amper die moeite werd.
Daar is geen twyfel dat Dewald ‘n enorme aanwins vir die Afrikaanse Christelike musiebedryf is nie. Hy het ‘n sterk tenoorstem, maar hy probeer nooit om opera-tegnieke in sy musiek toe te pas nie. Daarby kan daar geen fout met die integriteit van sy boodskap gevind word nie; dit is dalk meer belangrik as die vraag of hy kan sing of nie. Die feit dat hy baie beslis kán sing, help natuurlik. Hierdie album kan sonder voorbehoud vir enige Christen-musiekliefhebber aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.