Taalmonument, Suidoosterfees bied Jeugdag-vermaak

Cintaine Schutte is te sien in die eenvrouvertoning ‘Vlegsel’, geskryf en geregisseer deur Wessel Pretorius. (Foto: Verskaf)

Met Jeugdag wat Woensdag 16 Junie gevier word, is daar ʼn verskeidenheid vertonings waarna kykers kan uitsien.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bied vanjaar ʼn gratis aanlyn program aan, terwyl die Suidoosterfees gehoorlede terug skool toe neem met ses produksies wat by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied word.

Taalmonument bied aanlyn vermaak

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bied vanjaar ʼn gratis Jeugdag-program aan wat vanaf 16 Junie op Facebook en YouTube beskikbaar sal wees.

Die Jeugdag-program het op 5 Junie by die Taalmonument plaasgevind waar 100 uitgenooide jongmense na die gewilde en plaaslik bekende Nosipho H se motiveringspraatjie en sangitems geluister het. Zebulon Kochk, 2020-wenner van ʼn Kokertoekenning vir die bevordering van Afrikaans onder die Suid-Afrikaanse jeug, het van sy gedigte voorgedra en Bianca Goosen, wat al by talle kunsfeeste opgetree het, asook die jong opkomende Wellingtonse sterre RJay & LKay het gaste met musiek en sang vermaak.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die instelling Afrikaans in al sy diversiteit en gedaantes vier ter bevordering van nasiebou en maatskaplike samehorigheid. Die ATM beskou dit as ʼn geleentheid om sy bande met die gemeenskap te versterk, asook musiekbeoefening en kulturele loopbane onder die jeug te bevorder.

“Plaaslike talent word dikwels tydens groot geleenthede misgekyk of uitgebuit en dit word ook nie altyd na waarde geskat nie,” sê Jonas.

“Om hierdie redes wil ons ʼn platform aan plaaslike kunstenaars bied om te kan groei, vaardighede te slyp en broodnodige blootstelling te bekom. Vermaak het immers die krag om ons te verenig en in krisistye met mekaar te verbind.”

Jonas sê die opstande van 16 Junie 1976 het verreikende gevolge vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die Afrikaanse wêreld gehad. “Die tragiese gebeure kan seer sekerlik beskou word as een van die grootste flaters in die geskiedenis van hierdie relatief jong Afrikataal. Dekades later gaan die taal steeds gebuk onder negatiewe opvattings weens die opstand, daarom bied Jeugdag ons die kans om te herbesin oor die instelling se omstrede verlede en steeds verdeelde taalgemeenskap wat bedien word.”

Klik hier om meer oor die ATM se Jeugdag-program te wete te kom.

Suidoosterfees neem kykers terug skool toe

Met die viering van Jeugdag neem die Suidoosterfees, KKNK en NATi teaterliefhebbers terug skool toe.

Die klaskamer is ʼn reeks kort plek-spesifieke produksies wat in verskillende ruimtes van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied word. Vertonings vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas.

Volgens Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof, is die fees trots op die samewerking met die Stad Kaapstad en opvoedkundige instellings soos die Hoërskool Jan van Riebeeck en The Stage Performing Arts Studio.

“Die fees beywer hom vir die ondersteuning en ontwikkeling van talentvolle jongmense in die kunste en geniet die ATKV en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport se ondersteuning vir hierdie projek,” sê Hattingh.

Jephtas is die skrywer van ‘My kroon se krank’, waarin sy ook die hoofrol speel. (Foto: Verskaf)

Ses opvoerings van agt minute elk ondersoek uitdagings waarmee jongmense vandag te doen kry. Gehore roteer in groepe tussen die verskillende ruimtes om al die stukke te sien. Akteurs en skrywers wat betrokke is, sluit in: Cintaine Schutte, Wessel Pretorius, Rafiek Mammon, Eldon van der Merwe, René Cloete, Kanya Viljoen, Carlo Daniels en Veronique Jephtas.

Schutte is te sien in die eenvrouvertoning Vlegsel, geskryf en geregisseer deur Wessel Pretorius. Dit handel oor ʼn volwasse vrou wat haar verlede herbesoek nadat sy ʼn tienermeisie se noodkreet op sosiale media raaklees. Die dagboeke uit haar jeugjare konfronteer haar opnuut met die angsstryd teen boelies. Vlegsel is ʼn aangrypende besinning oor genesing wat óór kubergrense heen strek.

Jephtas, wat tans groot opgang as digter, akteur en dramaturg maak, is die skrywer van My kroon se krank, waarin sy ook die hoofrol speel. Die stuk plaas kwessies soos hare-politiek en selfaanvaarding verkwiklik onder die vergrootglas.

Die skoolbasaar, deur Rafiek Mammon en met Eldon van der Merwe en René Cloete in die rolle, bied ʼn blik op die trauma van seksuele mishandeling. Dit fokus veral op dinge wat ʼn mens wil weggee omdat dit skynbaar waardeloos is, of omdat dit ʼn mens juis waardeloos laat voel.

Kokon, geskryf en geregisseer deur Daniels, spreek ook die temas van boeliegedrag en seksuele identiteit aan. Dié fisieketeaterproduksie span beweging en klank in om die wreedheid wat onder die oppervlak van ons menslike bestaan broei, uit te beeld. Darion Adams en Ayden Croy is die akteurs.

Lede van die Hoërskool Jan van Riebeeck se tienertoneelgroep stel hulle talent ten toon in ‘Om teen treine te skree’. (Foto: Verskaf)

Lede van die Hoërskool Jan van Riebeeck se tienertoneelgroep stel hulle talent ten toon in Om teen treine te skree. Dié stuk handel oor die dramatiese impak op ʼn meisie nadat ʼn foto van haar kwaadwillig in die skool versprei word.

Studente van Kaapstad se The Stage Performing Arts Studio neem deel aan On the Wall uit die pen van Siobhan Taljaard. Taljaard speel saam met Braeden Buys en Kyra Swarts in dié produksie wat ʼn spieël ophou na tieners wat vasgevang is in ʼn stryd teen gewig en dieetmiddels.

Kaartjies vir Die klaskamer is by Computicket beskikbaar teen R120 vir volwassenes en R80 vir leerders, studente en groepe. Die vertonings is nie geskik vir kinders onder 14 jaar nie. Covid-19-protokol sal streng gehandhaaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Steve. Wanneer hou ons weer n Afrikaanse fees, siende dat ons feeste kan hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.