Talana doen nou haar eie ding

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Ons het haar leer ken as die blondekop van die vrouepopgroep Mwah!, maar Talana Vuren het onlangs besluit om ’n solo-loopbaan te volg.

Talana is in Groblersdal in Limpopo gebore, en sy het nog altyd daarvan gedroom om te sing. Toe sy 16 jaar oud was, het sy self besluit om die skool te verlaat, Johannesburg toe te verhuis en verder op afstandsonderrig deur middel van die Impak-program staat te maak. Sy het gou betrokke geraak by die Barnyard-produksie Girls wanna rock. Sy vertel dat sy destyds ’n rebel was, maar sonder ’n plan. Nogtans beskou sy haar as ’n plattelandse plaasmeisie.

Mwah! was die breinkind van die musiekpromotor Louis van Wyk en Talana het gehoor dat daar oudisies gehou sou word vir die drie meisies wat op die ou einde deel van die groep sou vorm. Sy het gou deurgedring na die volgende ronde en in Desember 2012 het sy, Chané Brits en Loriska Bubb deel van die groep geword. Hul debuutalbum, Waarvoor wag jy?, is in 2013 bekendgestel, en bevat die treffers “Gee gee gee”, “Sandra Prinsloo” (saam met Elvis se Seun) en “As die kat weg is”. Sedert hierdie album vrygestel is, het Chané die groep in raaiselagtige omstandighede verlaat en Talana het besluit om ’n solo-loopbaan te volg.

In Desember 2014 het sy dié besluit geneem, en tydens verlede jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn het sy die eerste tree in daardie rigting gegee. Sy het besluit om die groep te verlaat omdat sy dit beskou het as ’n fase van haar lewe wat verby was. Sy sien die ander twee nog nou en dan, maar hulle kuier nie gereeld nie. Franzel de Wet het intussen by Loriska aangesluit; Loriska het haar intussen ook as aktrise in 7de Laan en Sterlopers gevestig. Talana het hulle tydens die Diasfees in Januarie vanjaar gesien, en vir hulle gesê hulle klink goed. Talana sê reguit dat sy nooit vuil wasgoed in die media sal was nie, en dat sy enige stories wat oor haar of die groep versprei word, op ’n subtiele manier hanteer.

Talana se eerste solo-enkelsnit is getiteld “Oorlog”, en Waldo Greeff het dit vir haar geskryf. Sy beskou dit as haar “fight song”. Die boodskap van dié liedjie is dat ’n mens net moet vasbyt en uithou, maak nie saak wat die omstandighede is nie, en dat sy vir mense wat mismoedig voel, ’n bietjie inspirasie wil gee. Talana erken dat sy die afgelope tyd met ’n aantal dinge geworstel het, maar dat sy altyd gehoop het dat daar ’n lig in die tonnel sou wees.

Talana het die platemaatskappy Black and White Records saam met ’n goeie vriend van haar, Eduard Hugo, gestig. Met haar debuutalbum, wat vanjaar by Innibos vrygestel gaan word, beweeg sy weg van die “bubblegum pop” van die verlede. Sy beskou dit as ’n meer volwasse album, waarop daar selfs ’n bietjie rock voorkom.

Sy werk ook baie nou saam met Pierre Rossouw, die wenner van die televisiereeks Ons soek die sanger, wat beteken dat sy gereeld tussen Pretoria en Kaapstad reis. Daarby het Michael Lindt ook saam met haar aan die album gewerk. Sy glo dat dit belangrik is om getrou aan jouself te wees, daarom dat sy nie deel is van ’n gevestigde platemaatskappy nie. Sy erken ook dat die Here haar tot hier toe gelei het en dat haar lewe in sy hande is.

Wanneer Talana ’n liedjie skryf, volg sy nie noodwendig dieselfde proses nie. Dit hang baie van haar emosies af; sy sal enigiets wat sy voel, neerskryf. Sy kan lirieke skryf oor enigiets wat met haar  gebeur, en gewoonlik gee sy dit vir Pierre Rossouw om te toonset. Hier en daar skaaf Pierre ook aan die lirieke.

Daarby het Emo Adams en ’n jong kunstenaar met die naam van Early B ook saam met haar aan die album geskryf. Talana se belangrikste fokus is nou om die album vry te stel en soveel mense moontlik aan die album bloot te stel. Dis moeilik sonder ’n voltydse musiekpromotor; sy is tans op soek na die regte persoon om mee saam te werk. Haar doelwit is verder om as mens én kunstenaar nog verder te groei.

Sy beplan ook om ’n toer of twee in te werk, onder meer saam met Kurt Darren, wat sy baie goed ken. Verder wil sy ons land se jong musiektalent deur middel van ’n opvoedkundige program getiteld Schools rock ontgin. Sy glo dat jongmense waardes soos liefde, respek en integriteit aangeleer behoort te word.

Talana is gereed om die verlede agter haar te laat en vorentoe te kyk. Sy was van die begin af vasberade om ’n sukses van haar sangloopbaan te maak, en as ’n mens kyk na wat sy tot dusver vermag het, is daar genoeg rede om te glo dat sy nog baie ver sal kom.

Die musiekvideo van Mwah! se treffer, “Sandra Prinsloo”, kan hieronder gesien word:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.