Talentsoekkompetisie reik ʼn ekstra hand na deelnemers

Adri Mock en Roelof Bouwer van Pacisa saam met die lede van Penreach se Artreach koor in die Mbombela-omgewing. (Foto: Verskaf.)

Adri Mocke en Roelof Bouwer, albei mede-eienaars van die Performing Arts Community in South Africa (Pacisa) se talentkompetisie, het onlangs ingespring om ʼn koor van die Mbombela-omgewing te help met bykomende opleiding vir die nasionale ronde van dié talentkompetisie.

“Ons was verstom deur die nege koorlede se talent, maar het vinnig gesien hulle het amper geen kennis of ondervinding van hoe om met ʼn mikrofoon te sing, of hoe om ʼn klankbaan te gebruik nie,” sê Bouwer.

Penreach is ʼn niewinsgewende organisasie, en hulle uitreikprogram Artreach, help koorlede met afrigting en geleenthede in die kunstebedryf.

Mocke en Bouwer het Penreach gekontak om uit te vind hoe Pacisa met die uitreikprogram kan help. Daar is toe besluit om ʼn naweek lank in Augustus die Nelspruit-omgewing se deelnemers te gaan help met individuele sangafrigting en alle tegniese aspekte, asook hoe om ʼn mikrofoon reg te gebruik. Pacisa het ook ʼn klankstelsel geborg waarmee die koor vir die nasionale ronde van die kompetisie kon oefen.

Volgens Mocke was dit ʼn ongelooflike ervaring om te sien hoe die jong mense se oë blink as hulle vir die eerste keer ʼn mikrofoon saam met hulle sang gebruik.

“Ons het net weer besef ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het. Hierdie betrokke gemeenskap in die Mbombela-omgewing het byna niks nie, en die meeste van hulle het maar min hoop vir die toekoms.

“Daarom was dit vir ons belangrik om ʼn klein verskil in hierdie jong mense se lewens te probeer maak sodat ons weer vir hulle hoop kon gee en terselfdertyd wys dat daar mense is wat wel omgee.”

Mocke sê hierdie soort talentkompetisies fokus selde daarop om deelnemers en wenners se loopbane oor ʼn langer termyn te bevorder.

“Dit is waar Pacisa anders is. Ons pryse is só saamgestel dat dit wenners help om te groei as kunstenaar en dit help hulle om hul eie voete in die plaaslike kunstebedryf te vind.”

Tussen Bouwer en Mocke het hulle meer as 15 jaar se ondervinding in dié bedryf. Hulle het ook kragte met talle kenners in die plaaslike bedryf saamgesnoer om ʼn verskil in opkomende kunstenaars se loopbane te maak.

“Daar is soveel talent in die land. Al wat die meeste van hulle kort is die ondersteuning en ʼn regte platform wat hulle ʼn hupstoot kan gee. Ons wil graag sien dat kunstenaars toegerus word om ʼn volhoubare loopbaan in ons bedryf te volg.”

Die nasionale ronde van Pacisa-2020 vind van 21 tot 26 September plaas met beoordelaars soos Rudi Claase en Ivan Roux in die vokale kategorie, Christel van Heerden in die instrumentale kategorie, Mienke Blaauw-Jenkinson in die danskategorie en Lara Lourens in die toneelspelkategorie.

Mocke sê die inskrywings vir vanjaar se kompetisie het in die afsonderingstydperk verdriedubbel.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir ons deelnemers en dat hulle raaksien watter soort verskil ons in die bedryf en die lewens van ons deelnemers kan maak,” sê sy.

Melanie, die wenner van die vokale afdeling van die kompetisie in 2019, se enkelsnit, “Verdwaal” is op 5 Maart vanjaar by die Rockwood-teater in Pretoria bekendgestel. Rudi Claase het die liedjie geskryf.

Die liedjie, wat ook op alle digitale platforms beskikbaar is, is gedurende die jaar ongelooflik goed talle plaaslike radiostasies ontvang. “Verdwaal” het selfs die no. 1-posisie op Bosveld Stereo se Top-20 gehaal.

Melanie se musiekvideo, wat ook deel van haar prys was, is eksklusief op Via TV se Klink soos naweek bekendgestel en dit was te danke aan The Marketing Zoo se borgskap van ʼn ses maande lange mediaskakelingkontrak. Sy is ook tans besig om haar diploma aan die Campus of Performing Arts (Copa) in Midrand te voltooi. Copa het die diplomakursus as deel van verlede jaar se kompetisie geborg.

“Melanie het ʼn ongelooflike jaar in die bedryf gehad en kon haarself vestig as ʼn kunstenaar om dop te hou,” sê Mocke.

Bouwer beskryf die kompetisie as meer as nog ʼn talentsoekkompetisie. Volgens hom is hulle ʼn gemeenskap wat mekaar help sover as wat hulle kan.

Volg Pacisa op Facebook en Instagram om op hoogte te bly met alles wat in die kompetisie gebeur.

Kyk ’n video van die werkswinkel hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.