Talle inperkingsliedjies sien die lig

Talle kunstenaars, wat weens die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp noodgedwonge met Jan Tuisbly se karretjie moet ry, se kreatiwiteit is nog lank nie gestuit nie, en ʼn hele paar inperkingsliedjies, of sogenaamde “lockdown liedjies”, het reeds in dié tydperk die lig gesien.

Early B, Karen Zoid en Neil Sandilands se snit “Toe die wêreld stil gaan staan” is onlangs uitgereik.

Karen Zoid het die voortou geneem haar liedjie, “Toe die wêreld stil gaan staan”, wat tans in die no. 1-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 is. Die kletsrymer Early B en die akteur en musikant Neil Sandilands lewer ook ʼn bydrae in dié snit.

Zoid het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê die liedjie is kort voordat die algehele afsonderingstydperk in Suid-Afrika ingestel is, geskryf en opgeneem. Die liedjie is opgeneem by Mothership Studios in Philadelphia in die Kaap.

“Woensdag het ek vir Earl (Early B) gebel en hy was toevallig van Port Elizabeth in die Kaap by sy woonstel hier. Neil was toe op Riversdal by sy suster op die plaas,” het sy vertel.

“Hulle albei was Woensdag in die ateljee om die liedjie op te neem, en Donderdag het ek en Theo Crous die liedjie gemeng. Daardie dag teen 00:00 het die algehele afsondering begin. Toe almal begin panic oor toiletpapier, het ek ʼn song opgeneem.”

Die enkelsnit “Lockdown Blues” is onlangs uitgereik.

The Bottom Barrel Blues Band, met folk- en bluesmusikante Robin Auld, Steve Walsh, Schalk Joubert, Simon Orange, Mauritz Lotz, Tonia Möller, Willem Möller en Kevin Gibson, se splinternuwe enkelsnit getiteld “Lockdown Blues” is onlangs uitgereik.

Die snit is in isolasie opgeneem en is vervaardig deur die Cape Town Music Academy (CTMA), ʼn nie-winsgewende maatskappy wat geleenthede skep vir plaaslike, kontemporêre musikante.

“Lockdown Blues” is ʼn opbeurende, bittersoet deuntjie wat die uitdagings van Suid-Afrikaners se nuwe realiteit tydens die staat van inperking van nader bekyk. Die lied is ʼn ondeunde ode aan die lockdown-lewe in tipiese blues pastiche.

“Ek wou graag dat mense weet dit is oukei om die blues te kry gedurende inperking,” sê Nico McLachlan, liriekskrywer en voorsitter van die CTMA.

“Ek wou nie welbedoelde raad van die hand wys oor hoe om positief te bly nie – ‘sien die silwer randjie’ en ‘daar is lig aan die einde van die tonnel’, jy weet, daardie tipe hoop is ewig. Maar om ʼn blues liedjie te skryf is wel een manier om ʼn treetjie of twee voor daardie swaar, ou blues-gevoel te bly.”

Eben Groenewald se snit “Help ‘n bra” is ‘n groot internettreffer.

Die akteur en tromspeler Eben Groenewald se liedjie “Help ʼn bra” het binne ʼn enkele dag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Die liedjie het meer as 100 000 trefslae op sosiale media gekry en bykans 3 000 op YouTube.

Groenewald, wat tans in die kykNET-telenovela Arendsvlei te sien is en ook al in reekse soos Villa Rosa, Getroud met rugby, Die Boland-moorde verskyn het, het die liedjie met pa Johan se hulp opgeneem.

Johan is self ʼn komponis en is bekend vir die liedjie “Dis winter in die Breëriviervallei” en het sy eie ateljee in Worcester, waar die Groenewald-gesin die inperkingstydperk deurbring.

“Ek het self die liedjie gebou, maar my pa het my baie gehelp met die opname. Ek wou baie graag ʼn video maak vir die liedjie en het die vullisverwyderaars en mense wat in die asdromme kom krap het, gevra om ʼn dansie te doen in ruil vir kos en geld. Ek het ook ʼn paar vriende genader en vir hulle die dansie wat hulle moet doen gedemonstreer,” sê Groenewald.

Hy sê hy is oorweldig deur die goeie terugvoer wat “Help ʼn bra” ontvang. “Ek kry selfs video’s van mense wie se kinders op die liedjie dans en radiostasies het my genader om dit te speel. Ek is stomgeslaan deur die goeie terugvoer.”

“Help ʼn bra” is beskikbaar by iTunes, Apple Music, Spotify en Google Play.

David Kramer.

Om Kapenaars se gemoed in die uitdagende inperkingstyd te lig, het die vervaardigers van David Kramer se musiekproduksie KaapKreools ʼn aanlyn video-weergawe van een van die produksie se liedjies, “Welcome to Cape Town” gemaak.

Dié produksie, vervaardig deur die Cape Town Music Academy (CTMA), sou op 27 April vanjaar op die Kunstekaap by die Suidoosterfees debuteer.

Kramer het die lirieke ʼn bly-by-die-huis-boodskap gegee en saam met die CTMA ʼn heupswaai-musiekvideo geskep, waarin KaapKreools-musikante en ʼn groep van Kaapstad se gewildste kunstenaars verskyn.

“Ek en wyle Taliep Petersen het ‘Welcome to Cape Town’ geskryf. Die idee was om besoekers aan te moedig om na Kaapstad te kom en om die Kaapse gees te geniet. Maar vandag, as gevolg van Covid-19, het ons geen besoekers nie en die strate is leeg – die totaal teenoorgestelde beelde as was wat die liedjie gevier het. Dit het my die idee gegee om die lirieke te herskryf en so ons huidige situasie te beskryf. Ek hoop dit sal bietjie vreugde en humor bring in hierdie vreemde tye,” sê Kramer.

Die video is geheel en al op selfone verfilm. Kykers kan uitsien na videogrepe van Louw Venter, Rob van Vuuren, Pietman Geldenhuys, Dean Smith, Theodore Jantjies, Nadia Valvekens, Ivan Zimmerman en Amalia Uys, Martelize Brink, Babalwa Mentjies, Albert Frost, Nick Turner, Luna Paige en Ramon Alexander.

CO Productions se weergawe van “From now on” is uiters gewild.

Bekendes in die Afrikaanse musiekbedryf soos Robbie Wessels, Leah, André Schwartz, Willem Botha, Reynardt Hugo, Lee Scott, Bianca le Grange en David Johnson het kragte saam met CO Productions gesnoer en elkeen afsonderlike dele vanuit ʼn inspirerende liedjie opgeneem wat verwerk is vir ʼn musiekvideo.

Die video waarin “From Now On” uit die bekroonde rolprent, The Greatest Showman, vertolk word, is in isolasie opgeneem en verwerk. Die doel van die lied is om aanhangers te inspireer terwyl die donker koronavirus-wolk van die Covid-19-pandemie oor die wêreld hang.

“Dit is ʼn uitdagende tydperk vir ons almal en die vermaakbedryf word net so hard getref deur die koronavirus en die sosiale beperkings wat dit tot gevolg het,” sê Corné Oosthuizen, stigter en besturende direkteur van CO Productions.

“Ons het egter ʼn keuse oor hoe dit ons emosioneel gaan raak en met dié projek wou CO Productions se kunstenaars hul aanhangers motiveer en die boodskap oordra dat ons almal hierdeur sal kom.”

Volgens Oosthuizen wou die kunstenaars, wat reeds ʼn lang pad onder die bestuur van CO Productions saamstap, juis iets doen om aanhangers én mekaar gesamentlik te bemoedig.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.