Taylor Swift ryg beeldjies by toekenningsgeleentheid in

Taylor Swift op die verhoog tydens ‘n optrede van haar Eras-toer. (Foto: Twitter/@taylorswift)

Die popster Taylor Swift het Sondagaand vir die soveelste keer vanjaar skoonskip by ʼn toekenningsgeleentheid gemaak en boonop een van haar eie rekords verbeter.

Die “Anti-hero”-sanger het tydens die Billboard-musiektoekennings – wat vanjaar slegs aanlyn aangebied is – 10 van die 20 eerbewyse waarvoor sy benoem was, gewen.

Volgens Billboard bepaal prestasie op hul trefferlyste tussen 19 November 2022 en 21 Oktober 2023 dié toekennings.

Swift was reeds voor vanjaar se geleentheid die voorste vroulike wenner ooit met 29 oorwinnings en is nou met haar 39 toekennings kop-aan-kop met die kletsrymer Drake die mees bekroonde Billboard-wenner in die geskiedenis.

Haar nuwe oorwinnings sluit onder meer top- vroulike kunstenaar, top- algehele kunstenaar én Billboard se top- globale kunstenaar in.

Morgan Wallen, “Last Night”-sanger, het Sondagaand ook baie pryse gekry en altesaam 11 beeldjies huis toe geneem, insluitend die toppryse soos top- manlike kunstenaar, top- Hot 100 kunstenaar, top-stromingsliedjiekunstenaar en top-country-kunstenaar.

Taylor Swift het skoonskip by die VMA-toekennings gemaak. (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Maroela Media het berig dat Swift vroeër vanjaar ook met nege toekennings by vanjaar se MTV Video Music-toekennings weggestap het. Dít het haar nou naas Beyoncé die tweede mees bekroonde sanger in dié toekenningsgeleentheid se geskiedenis gemaak.

Swift is tans in Suid-Amerika op haar uiters suksesvolle en rekordbrekende Eras-wêreldtoer, en het haar aanhangers Sondagaand met ʼn voorafopgeneemde boodskap toegespreek.

“Niks hiervan sou sonder julle gebeur het nie. Ek is so geëerd dat julle vanjaar die Eras-toer so magies gemaak het. Julle het die konsertfliek gaan kyk. Julle het oor my heropnames omgegee. Ek is ongelooflik lief vir julle. Ek voel soos die gelukkigste persoon in die wêreld om julle in my hoekie te hê én mense te hê wat omgee oor die musiek wat ek maak,” het Swift aan aanhangers gesê.

Forbes berig dat die Eras-toer tans op koers is om vir die kunstenaar ʼn verstommende $4,1 miljard (meer as R70 miljard) te verdien, wat dit die suksesvolste solo-toer in die geskiedenis sal maak.

Swift se toer het nie net haar eie geldkoffers gevul nie, maar het ook die Amerikaanse ekonomie ʼn aansienlike hupstoot gegee danksy verhoogde reistogte, kaartjieverkope en handelswareverkope in stede waar haar konserte plaasgevind het.

Tot op hede het die Eras-toer na raming ʼn merkwaardige $5,7 miljard (meer as R9 miljard) in die Amerikaanse ekonomie ingespuit, ʼn bedrag wat elke Amerikaner van $20 kan voorsien.

Die sanger het ook tydens haar mees onlangse optrede van die Eras-toer in Brasilië hulde aan ʼn aanhanger gebring wat kort voor die konsert oorlede is.

Tydens Vrydag se vertoning is die 23-jarige Ana Clara Benevides Machadona na bewering oorlede weens hartprobleme wat deur die ondraaglike hitte by die konsertlokaal vererger is.

Die oorsaak van haar dood is egter nog nie amptelik bevestig is nie.

Brasiliaanse konsertgangers het op X (voorheen Twitter) daarop gewys dat hulle nie toegelaat is om hul eie waterbottels in die Nilton Santos Olimpiese stadion in te neem tydens Swift se optredes nie, ondanks stygende temperature.

Swift het haar medelye op sosiale media gedeel en gevolglik Saterdag se optrede na Sondag geskuif. Sy het Sondagaand ook haar lied, “Bigger Than The Whole Sky”, aan Ana opgedra.

Bronne: Billboard, Forbes, Huffington Post, Time.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.