TBF en Garden World span saam vir ‘Kersliedere by kerslig’ vir geldinsameling

Man-met-kers.jpg

Foto: Leonie Bezuidenhout

Sedert 2007 bied Garden World in Muldersdrift ʼn Kersliedere by kerslig-geleentheid aan ten bate van verskeie liefdadigheidsorganisasies. Vanjaar was geen uitsondering nie en die gekose organisasie vir 2015 was die Teaterbystandsfonds (TBF).

“Ons werk baie saam met Busy Lizzy,” vertel Corné Stemmet, hooforganiseerder van die geleentheid. Hy verwys natuurlik na Lizz Meiring, bestuurslid van die TBF. “Sy doen verskriklik baie vir ons en daarom het ons besluit ons gaan vanjaar teruggee aan die TBF.”

“Omdat ek self ʼn opkomende akteur is en weet hoe swaar die mense in ons bedryf kry, het ek besluit ons moet ons deel doen om te help. Ons het die fokus toe vanjaar van die Kinderfonds, wat ons al baie jare ondersteun, na die TBF verskuif,” vertel Corné.

Hy vertel verder dat hy elke jaar se Kersliedere-geleentheid ʼn jaar voor die tyd beplan. “Ek maak sepiesterre, die kerkkoor en die liefdadigheidsorganisasie ʼn jaar voor die tyd vas. Die datum vir volgende jaar se Kersliedere by kerslig is ook reeds vasgemaak; die geleentheid sal plaasvind op 2 Desember,” sê Corné.

“Ek is dankbaar vir elkeen wat vanjaar hier was. ’n Mens kan altyd meer voete trek, maar ek is baie tevrede. Veral omdat die weer in Johannesburg teen ons was,” sê hy. “Ons moes alles onderdak skuif na ons banketsaal as gevolg van die reën.”

Binnelanders-aktrises Desire Gardner, Je-ani Swiegelaar en Hilda Cronjé het kom oë wys by die geleentheid. Sangers soos Linda Killian en Manie Jackson het die gehoor vermaak, sowel as die sanggroep Heuning. Die NG kerk Weltevreden se kerkkoor het die Kerssang gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.