Tetelestai- Rudi Muller

TetelestaiHoewel Rudi Muller hoofsaaklik as ‘n kommersiële Afrikaanse sanger bekendheid verwerf het, het hy twee jaar gelede sy eerste Christelike album, Deurbraak vrygestel.
Hierdie album, wat die treffer Alfa en Omega opgelewer het, is nou eindelik opgevolg met sy jongste vrystelling, Tetelestai,nog ‘n Christelike album. Die naam van die album is die Griekse woord vir Jesus se laaste kruiswoord, Dit is volbring. Die titelsnit, wat hy self geskryf het, is iets besonders en sal ook by ‘n meer uitgelese gehoor byval vind. Jy bly my kind is die eerste treffer vanaf die album; Rudi het die Afrikaanse woorde daarvan saam met Kobie Koen geskryf. Hierin sê Rudi dat God getrou bly aan sy kinders, maak nie saak wat in hul lewens gebeur nie. Rudi het Vlambaar geskryf na aanleiding van Opernbaring 3 vers 16 en Job 18 vers 5 geskryf, en hierin sê hy dat hy, by wyse van spreke, aan die brand vir die Here wil wees. Die volgende snit sal almal laat saamsing; dit is ‘n lofkeurspel wat bestaan uit Helder skyn u lig vir die nasies, Alle volke klap jul hande, Kom na My toe(Ek was eensaam en verlaat), O Heer my God en Ek weet verseker. JmRmR staan vir Jesus my Rots my Redding, en dit is ook een van die moontlike treffersnitte vanaf die album. Hoe groot is ons God is die Afrikaanse weergawe van Chris Tomlin se bekende lied How great is our God, en dit is ook al deur Juanita du Plessis opgeneem. Gelukkig word die lirieke van die meeste snitte by die CD-omslag ingesluit, en as jy die wysie ken, sal jy dit gou kan saamsing. Die woorde van die volgende snit, Wat sal jy doen, is geskryf na aanleiding van die bekende Openbaring 3 vers 20. The river is nog ‘n bekende snit, wat onder meer al deur Danie Botha opgeneem is.
Laat skyn is ‘n gebed vir vrede in ons land, wat Rudi geskryf het na aanleiding van 2 Samuel 22 vers 29 en Jesaja 60 vers 19. Rudi se pa, Lieb Muller, is in Julie verlede jaar oorlede, en Rudi het Die laaste groet ter nagedagtenis aan hom geskryf. In Ek het U nodig verwoord hy die mens se afanklikheid van God baie goed, en die meeste mense sal hulle sekerlik daarmee van vereenselwig. Even so is ‘n pragtige aanbiddingslied wat deur Terry Malcolm geskryf is. Die laaste van Rudi se komposisies op die album is Kompas, waarin hy sê dat God hom in die regte rigting moet lei. Die laaste snit is Halleluja in my hart, wat oorspronklik deur Retief Burger opgeneem is en al as ‘n amptelike kerklied aanvaar is.
Hoewel Rudi homself nie as ‘n sanger van Christelike musiek beskou nie, het hy met hierdie albumbewys dat hy die naam waardig is. Die snitte wat hy self gskryf het, kom almal met verwysings na Bybelteksverse, en daarom kan daar geen tywfel oor die integriteit van sy musiek bestaan nie. Hierdie album is sonder twyfel ‘n bewys dat die gehalte van kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek al hoe meer begin verbeter; dit sal by die meeste Christen-musiekliefhebbers byval vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.