‘The Voice SA’-wenner stel eerste enkelsnit bekend

Tasché Burger se eerste enkelsnit, “Die Een”. (Foto: Verskaf)

Die 19-jarige Tasché Burger, wenner van die derde seisoen van The Voice SA, het Vrydag haar heel eerste enkelsnit bekendgestel.

“Die Een” is die eerste oorspronklike liedjie wat Tasché opgeneem het nadat sy in Julie Suid-Afrika se harte gesteel het met haar verstommende vertonings op die The Voice SA-verhoog.

Francois van Coke, Tasché se afrigter op die televisieprogram, het ná afloop van die reeks gesê hy sal Tasché steeds onder sy vlerk neem en haar help om haar sangloopbaan te bou.

Dit is daarom heel gepas dat “Die Een” by Van Coke Studios in Kaapstad opgeneem is met Hunter Kennedy (Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar) en Richard Onraet (Die Gevaar) as medeskrywers en Van Coke as medevervaardiger.

“Die ervaring van hierdie opname was mal!” vertel Tasché. “Ek was 13 jaar oud toe ek laas in ʼn studio was, so dit was ongelooflik om weer agter die mikrofoon te staan en te sing hoe ek wil sing, my eie ding te doen en rond te speel met wat ons beplan het om te doen met die liedjie. Richard Onraet het my baie gehelp met harmonieë en dit was lekker om saam met almal te kon werk om ’n lekker liedjie op te neem. Ek is nou hooked.”

Tasché Burger, die wenner van The Voice SA 2019 (Foto: Facebook)

“Die Een” is egter net die eerste van vele. Tasché verklap dat sy volgende week weer terug in Van Coke Studios sal wees om aan nog oorspronklike materiaal te werk. “My kortspeler gaan op 15 November uitkom, so daar is nog baie werk om in ʼn kort tydjie te doen,” sê sy.

Vir Van Coke was die opname ook ʼn eerste in sy rol as medevervaardiger. “Tasché was grootliks betrokke by die skryfproses van “Die Een”; waarop ek baie trots is,” vertel hy.

“Ek is bly ek kon deel wees van die hele proses. Dis wat ek graag wou gedoen het vandat ek haar gesien het op The Voice SA en ek wou haar kon help in die toekoms ook. Ek is bly dat ek kon betrokke wees as ’n medevervaardiger op die liedjie. Ek dink dit gaan ’n huge hit wees,” vertel Francois.

As die wenner van The Voice SA het Tasché ʼn platekontrak by Universal Music, ʼn Toyota RAV4, en ʼn R100 000-geskenkbewys van Truworths gewen.

“Die Een” is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vanessa ·

SA het darem uitstekende jong kunstenaars. Baie geluk Tache dat jy The Voice SA gewen het. Jy was en is fenominaal. Ek kan nie wag om jou eerste CD te koop nie. Baie sterkte met jou sang loopbaan vorentoe, jy gaan ver kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.