‘The Voice’ se Vernon Barnard: ‘Geen struikelblok onoorkombaar’

Vernon Barnard (Foto: Facebook)

Oomblikke voordat Vernon Barnard die verhoog betree het om ʼn oudisie vir The Voice af te lê, het dit so byna gevoel asof sy hart uit sy keel gaan spring. Ja, sy senuwees hét geknaag, sê hy. Maar dit was eintlik omdat dié oomblik die potensiaal gehad het om sy lewe handomkeer te verander.

Dié oudisie – waarna reeds meer as 15 miljoen mense op YouTube gekyk het – hét toe wel sy lewe verander. Die sanger het sedertdien daarin geslaag om die harte van duisende aanhangers te verower en gaan binnekort sy debuutalbum uitreik.

Barnard, wat blind is, sê hy kan steeds nie glo dat dié video só gewild op YouTube is nie. Selfs die Amerikaanse akteur Ashton Kutcher het die video op sy Facebook-blad gedeel.

“Ek dink die oomblik toe ek daar gestaan het, het ek net in survival mode ingegaan. Ek wou net deur daardie ongeveer 90 sekondes kom. Ek is uit die veld geslaan dat soveel mense die video gekyk het en voel baie geëerd en geseënd. Dis nie iets waaraan jy noodwendig dink nie, jy hoop bloot maar dat jou oudisie ʼn soort van ʼn platform sal kan skep. Ek het nog altyd gesê ek wou een ding bereik, en dít is om ʼn impak te maak – en ek dink daardie doel is bereik.”

Die sanger, wat soms ook motiveringswerk doen, word wyd geprys daarvoor dat hy verskeie struikelblokke oorkom het om nou dié album uit te reik. Hy sê selfs sy blindheid was nog nooit vir hom onoorkombaar nie, en dat hy met dié album vir ander wil wys dat enigiets moontlik is.

“Ons almal het ons eie, unieke uitdagings, maar nie een van dié uitdagings is dieselfde nie. Ek dink soms wil ons as mense net weet dat ons nie alleen is nie, en dis juis wat ek wil hê my musiek moet vir iemand beteken. Ek weet wat musiek tot op dié punt in my lewe vir my beteken het, so my wens is dat ek iets merkwaardigs vir ʼn ander persoon kan beteken.

“My grootste doelwit is om die beste moontlike ek te wees deur alles te gee wat ek het. Hoewel ek doelgerig is, is my fokus nie op ’n spesifieke doel nie, maar eerder om geluk, liefde en sukses na te streef. Ek wil betekenisvolle lirieke en emosievolle vertolkings daarvan kombineer om vir mense te wys hoe passievol ek oor musiek voel. Ek vind inspirasie in mense wat hard werk, vir iets staan en veral in iemand wat verskeie struikelblokke moes oorkom om bo uit te kom en dit vermag het. Enigiemand wat hoop aan die massas kan gee en ’n positiewe boodskap kan bring, is ’n held in my oë,” vertel hy.

Vernon Barnard (Foto: Facebook)

Sy jongste enkelsnit, “Voel”, dra juis dié positiewe boodskap oor, maar ook een van onvoorwaardelike liefde. “Dis ʼn lekker liedjie met ʼn positiewe boodskap – dit vertel van onvoorwaardelike liefde tussen mense. Dit verskil van ander liedjies in die album in die sin dat dit ʼn regte popliedjie is wat mense bloot net kan geniet. Maar ek gaan steeds nie ʼn liedjie sing as ek dit nie iets in my aanwakker nie. Ek is ʼn emosionele sanger. Ek wil elke woord voel wat ek sing en ek wil hê die mense wat daarna luister, moet dit ook beleef.”

Barnard sê die musiek op dié album verskil van sy weergawes van bekende liedjies op die The Voice-verhoog. “Die musiek is meer alternatief, maar elke liedjie het steeds ʼn diep boodskap. Dis vir my baie belangrik dat mense verstaan dat ek multidimensioneel is en dat ek meer as een genre kan sing. Ek het tydens my deelname aan die program baie akoestiese liedjies gedoen en die liedjie ‘Onthou’ wat ek geskryf het, is ʼn enkele liedjie wat sal herinner aan my deelname aan die program. Dis lekker om nuwe uitdagings te aanvaar en dinge te doen wat my in ʼn stadium ‘bang’ gemaak het.”

Die sanger se meisie vertolk ook ʼn rol in die musiekvideo vir die liedjie “Voel”. “Ek wil so eg as moontlik voorkom omdat dit vir my sekerlik een van die belangrikste aspekte van my loopbaan in die vermaakbedryf is. Ek wou nie ʼn aktrise ontmoet en iets uitbeeld met iemand wat ek nié ken nie – my meisie is al lank deel van my lewe en ek voel die gemaklikste wanneer ek saam met haar is. Dis soms moeilik om té persoonlik te raak of te veel van jouself in die publiek deel, maar daardeur kan ek ander mense se harte raak en ook vir hulle iets beteken, nes hulle stories vir my iets beteken.”

Barnard se album word vroeg volgende jaar uitgereik. Vir meer inligting oor die sanger, besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vernon aanhanger ·

Wat ‘n pragtige jongman, plat op die aarde, mooiste geaardheid, hy het wonderlike ouers asook ‘n boetie, elke keer as ek na sy eerste oudisie kyk dan tjank ek vir ‘n vale, ek het dit getape………Vernon Jnr jy is ‘n voorbeeld vir elke jongmens asook ouer mense. Hou aan so mooi sing……..as ek hartseer is dan luister ek na jou musiek en ek kry vir krag van bo, om vir my te se “jy is okay” dan voel ek weer beter….Danie Seun jy is my insperasie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.