Tien van harte

Gerhard Steyn

As Gerhard Steyn sy troefkaart op die tafel sit, is dit alles behalwe ‘n gelukskoot. Harde werk, ysere dissipline en ‘n passie vir perfeksie is deel van sy strewe met elke album. Dié dat hy aan sowat 120 liedjies geskaaf en help skryf het en toe die room afgeskep het voordat sy jongste en vyfde album, Tien van harte, die winkelrakke kon tref.

Die sanger van treffers soos Baby Tjoklits en Diamante vir jou – wat verlede jaar deur Exactmobile as die no. 1 aflaaibare liedjie van 2010 aangewys is – meen die nuwe CD gaan sy aanhangers verras. Die album bevat twaalf liedjies asook ‘n bonussnit, wat Steyn se opname van die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie se Spore in die lug is.

Die verrassing is egter dat twee liedjies duette met geliefde en bekende kunstenaars is. Rooi roos (Tien van harte) is ‘n duet wat hy saam met Nádine opgeneem het. “Nádine het vir iemand in die bedryf gesê as sy ‘n duet wil doen, wil sy dit saam met my doen. Toe hulle my genader het, het ek gevoel die tyd is reg,” vertel Steyn.

“Die tweede duet saam met Richard van der Westhuizen (van die reeds immergroen treffer Tussen treine) was vir my amper vanselfsprekend. Ek is ‘n groot aanhanger van Richard – as ‘n liedjieskrywer en sy musiek.”

Om ‘n gunsteling op twee op die album uit te sonder, is vir Steyn soos een van die sewe doodsondes. Sy liedjies is soos kinders en hy trek nie een voor die ander nie. Tien van harte skop af met die polsende Riviere swem en word dadelik gevolg deur suiwer liefdestreffers soos Jy weet hoe om my vas te hou en Goud en silwer. Laasgenoemde beloof om saam met Miljoene soene en Dimpels derduisende musiekliefhebbers se voete te laat jeuk en hul luidkeels te laat saamsing.

“Ek glo nie daar mag net een goeie liedjie op ‘n album wees nie,” sê die sanger wat reken dat hy sedert sy sangdebuut ongelooflik gegroei het – ook as liedjieskrywer. “Elke album voel weer soos die eerste. Daar is dieselfde opgewondenheid. Ek wonder net elke keer wat die publiek as treffer gaan kies.”

Steyn se liefde vir musiek het in sy oupa en ouma se voorhuis begin toe hy gesien het hoe sy ma se broer – wat ‘n laatlammetjie en net ses jaar ouer as hy was – geoefen het om aan talentkompetisies deel te neem. Sedertdien streef hy om as musikant in eie reg net sy beste te gee. Met Tien van harte, lewer hy ‘n tien-uit-tien-musiekproduk wat beloof om weer eens ‘n troefkaart in die treffersparades te wees.

Speellys

  1. Riviere swem
  2. Jy weet hoe om my vas te hou
  3. Goud en silwer
  4. Miljoene soene
  5. Dimpels
  6. Beter saam met jou
  7. Jy’s my hartkklop
  8. Goeie tye
  9. Vuurvliegies
  10. Rooi roos (Tien van harte) met Nadine
  11. Tussen treine – met Richard van der Westhuizen
  12. Live to tell
  13. Spore in die lug (Huisgenoot Tempoliedjie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.