TiNo ‘leer nog al die pad’

TiNo. (Foto: verskaf)

“Ek het soveel gegroei, geleer en ontwikkel in my musiek die afgelope ruk. En ek is nog lank nie klaar geleer nie.”

Só gesels die rasperstemsanger, TiNo, die 21-jarige man wat aanvanklik bekendheid op TikTok verwerf het voordat sy sangloopbaan vlamgevat het.

Vandag pryk daar talle enkelsnitte en ’n lekkerluister-debuutalbum agter TiNo se naam. Sy nuwe enkelsnit, “Tassies pak”, is maar net nog een van sy snitte waarmee hy Suid-Afrikaanse harte sal verower.

“Tassies pak” wat hy en ʼn vriendin geskryf het, vertel eintlik ’n liefdesverhaal, vertel TiNo aan Maroela Media.

“Dit is uit en uit ’n harde, rock-liefdesstorie,” vertel hy.

“Dit was ‘n eer om te sien hoe ‘Afstand’ [sy vorige enkelsnit] so goed ontvang is, en ek hoop dat hierdie liedjie dieselfde sukses sal behaal. Ek is dankbaar vir die ondersteuning van my aanhangers en hoop om hulle met meer musiek in die toekoms te verras.”

Hy is egter vasbeslote dat sy pad in die musiekbedryf ook ʼn leerskool is, en dat die groei en ontwikkeling wat hy as mens en kunstenaar beleef, nooit werklik tot ʼn einde sal kom nie.

Wanneer TiNo nie besig is om sy kitaar te tokkel, nuwe liedjies te skryf of op te tree nie, bring hy sy tyd agter die universiteitsbanke van Universiteit Stellenbosch deur. Hy is tans besig met sy derdejaar in plant en dierkunde en sien uit om te sien hoe hy dié graad gaan gebruik wanneer hy eindelik klaar studeer is.

“Ek moet sê, dit is ʼn voorreg om nou al ʼn paar opsies te hê vir die toekoms. Vir eers kan ek nie eintlik kies nie. Ek hou van wat ek studeer, ek geniet rugby en ek is gek oor musiek.

“Ek gaan kyk waarheen die pad my vat – die tyd sal leer.”

Aanhangers van dié sanger en sosiale media-persoonlikheid kan hul vere regskud vir ʼn nuwe album wat binnekort die rakke gaan tref.

“Ek hoop dat my musiek lekker versprei en dat mense aanklank daarby vind. Dit is immers die mense wat op die ou end belangrik is.”

Kyk na “Tassies pak” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Wow, asemrowend mooi, wat ‘n stem………………..!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.