Toeka 3- Steve Hofmeyr

Toeka 3Hoewel Steve Hofmeyr se debuutalbum reeds in 1989 vrygestel is, het sy gewildheid verder toegeneem nadat hy in 2003 sy eerste Toeka-album vrygestel het.
Die konsep was eenvoudig; stel die musiek van Suid-Afrikaanse kunstenaars van weleer aan ‘n nuwe generasie bekend en sluit ‘n paar oorspronklike nuwe komposisies daarby in. Dit het baie goed gewerk, en ‘n tweede Toeka-album het kort daarna verskyn.
Nadat Steve drie jaar laas ‘n album vrygestel het, is hy eindelik terug met Toeka 3, en hierdie album het sommer dadelik die topverkoper in Suid-Afrika geword. Die eerste snit op die album is Live on, wat ongelukkig Pierre de Charmoy se enigste groot treffer was, en wat Pierre saam met hom sing. Die musiekverwerking op hierdie nuwe weergawe is baie goed, en’n mens luister as’t ware van voor af daarna. Met die tweede snit het ‘n mens ‘n appeltjie met Steve te skil. Hoewel Clive Bruce ‘n groot treffer met One last kiss, is dit oorspronklik deur Smokie se aanvanklike hoofsanger, Chris Norman, gesing. Ter versagting moet ‘n mens toegee dat dit seker Clive Bruce se grootste treffer was. Danie Botha was in 1989 die naaswenner van die televisie-sangkompetisie Debuut, maar hy moes eintlik gewen het. Hoe ook al, hy het ‘n groot treffer met Wie kan dit verstaan gehad. Danie het net meer as twintig jaar sy rug op kommersiële Afrikaanse musiek gekeer, wat niks anders as ‘n volstrekte skande is nie. Danie het egter ingestem om sy groot treffer, Wie kan dit verstaan, saam met Steve te sing. ‘n Lekker verrassing is een van Herbie en Spence se beste treffers, My enigste een. Spence is in 2002 oorlede, maar Herbie sing dit saam met hom. Billy Forrest het ‘n reuse treffer met Tiny bubbles gehad nadat dit in ‘n sjokolade-advertensie gebruik is. Dit is een van net vier van die ouer snitte wat Steve Hofmeyr alleen sing, omdat Billy sy steun aan dié projek onttrek het. Ek kyk graag so diep in jou oë was ‘n treffer vir Gé Korsten, en daarom is dit seker gepas dat een van Gé se “troonopvolgers”, Fanie de Jager, dit saam met hom sing.
Nog ‘n liedjie wat glad nie in Suid-Afrika ontstaan het nie, is Help, wat oorspronklik ‘n nr. 1-treffer vir The Beatles was. In die 1980’s het eers John Farnham, wat ‘n treffer met You’re the voice gehad het, en later die Suid-Afrikaanse groep Hotline dit opgeneem en in ‘n rock-ballade verander. Kom ons wees eerlik; die oorspronklike weergawe van The Beatles was nog altyd die heel beste. Jennifer Joens sing hierdie snit saam met Steve. Ek verlang na jou was natuurlik Sonja Herholdt se groot treffer, maar weer eens sing Steve dit alleen. Steve het Daar’s ‘n plek al voorheen saam met die oorspronklike komponis en sanger daarvan, Coenie de Villiers, opgeneem, maar dit is weer hier ingesluit. David Kramer was die laaste kunstenaar wat die nr. 1-posisie op Springbok Radio se Top 20 met ‘n oorspronklike komposisie kon haal, en Steve het dit hier ingesluit, maar hy sing dit alleen. Nie dat dit saakmaak nie; dit klink baie goed. Steve het al ‘n hele rugby-album opgeneem en ‘n aantal liedjies vir die Blou Bulle geskryf, en daarom is dit glad nie ‘n verrassing om hierdie snit op dié album te sien nie. Steve het jare lank ‘n vete met Anton Goosen gehad; nugter weet waaroor dit gegaan het. Intussen het hulle egter vrede gemaak en hulle sing Anton se groot treffer Kruidjie-roer-my-nie saam. Substitute was Clout se groot treffer, en hul hoofsangeres, Cindy Alter, sing saam met Steve. Liza Brönner het dit ook al saam met Cindy opgeneem, en haar stem klink nog net so goed soos byna veertig jaar gelede. Die musiekvideo van die oorspronklike weergawe verskyn onderaan. Groep Twee was seker die suksesvolste sangpaar in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, en Daar’s niks soos ware liefde was seker hul grootste treffer. Die oorblywense lid van Groep Twee, Gert van Tonder, sing saam met Steve. Bobby Angel sing Rod Stewart se treffer Sailing saam met Steve; hugter weet hoekom Gren-eyed angel, wat spesiaal vir Bobby geskryf is en ‘n groot treffer vir hom geword het, nie eerder gekies is nie. Hoe ook al, Steve en Bobby se opname klink baie goed. Daar word tegnologie op die volgende snit ingespan; Steve het Mag God u seën ingesluit, en Gé Korsten se stem kan op hierdie opname gehoor word. Geen Toeka-album was tot dusver volledig sonder oorspronklike komposisies nie, en Steve het twee ingesluit. Ons bloed bly blou is sy jongste komposisie vir die Blou Bulle, en dalk een van sy bestes tot nog toe. Die volgende snit is nog ‘n oorspronklike komposisie. Sit die ligte aan het al die nr. 1-posisie op verskeie radiostasies se trefferslyste gehaal en is seker een van die grootste treffers van die jaar. Hollywood-boulevard is nie ‘n komposisie van Steve nie, maar nogtans ‘n nuwe snit wat Petro de Villiers saam met hom sing. Steve het Suid-Afrika se vorige nasionale lied, Die stem, by Innibos gesing en nou ook op hierdie album ingesluit. Dit klink goed met kitaarbegeleiding, maar dis jammer dat die gehoor die laaste deel saam met hom sing, en dat hy nie al vier verse gesing het nie.
Dis maklik om te verstaan hoekom hierdie album so gewild geword het, maar ‘n mens kry die gevoel dat dit dalk die laaste van sy soort sal wees. Hoe ook al, dit is ‘n lekker nostalgiese reis deur die verlede van plaaslike musiek, en hopelik sal dit maak dat vandag se jongmense moeite sal doen om meer oor gister se kunstenaars se musiek uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.