Top-kunstenaars ‘bring trots’ met nuwe enkelsnit, ‘Die land’

Bobby, Bok, Steve, Jay en Ruhan. Foto: Verskaf

Vyf van Suid-Afrika se bekendste sangers in die Afrikaanse musiekbedryf het saamgewerk aan ’n splinternuwe liedjie, “Die land”.

Die hoop is dat dié lied Suid-Afrikaners se harte trots gaan laat klop oor die land – maar ook gaan los met ’n paar intense vrae.

Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk en Ruhan du Toit van die bekroonde duo Touch of Class, se enkelsnit, “Die land”, is pas uitgereik en “gaan selfondersoek van elke Suid-Afrikaner verg oor wat ons vir ons nageslag gaan nalaat”, lui ʼn verklaring oor dié nuwe lied.

“Ondanks die onsekerheid wat talle Suid-Afrikaners ervaar is dit bykans of hierdie lied landsburgers wil smeek om in die land te bly en daarin te belê – soos God se doel was met elke persoon wat Suid-Afrika sy tuiste noem. Met diep lirieke vanuit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer bring die lied ’n gevoel van trots oor dit wat aan ons toevertrou is,” volgens die verklaring.

Steve Hofmeyr. Foto: Verskaf

“Ek is baie opgewonde oor “Die land” en ek en my kollegas wil met hierdie lied die boodskap van hoop aan elke Suid-Afrikaner bring,” het Steve Hofmeyr gesê.

“Dit gaan nie net oor die situasie waarin ons is nie, maar ook oor dít waarin ons glo en wat ons wil nalaat vir ons nageslag,” het hy gesê.

In die musiekvideo, wat vir die eerste keer gewys gaan word gedurende Jukebox op kykNET NOU op 15 September, kyk die kunstenaars hul gehoor reguit in die oë terwyl hulle vra wat jý eendag gaan nalaat. Hulle antwoord op die vraag dat hulle die son, see en land sal nalaat, want dít is wat God aan elke Suid-Afrikaner gegee het.

Bobby, Bok, Steve, Jay en Ruhan. Foto: Verskaf

’n Spesiale embleem is ontwerp wat Suid-Afrikaners met trots kan aflaai en vertoon. Die publiek kan ’n spesiale webwerf, www.dielandbehoortaanjou.co.za, besoek om ’n plegbelofte af te lê. Dié belofte hou in dat dié embleem ’n bewys is dat jou liefde vir die land sal bly staan en dat jy weet niemand sal van jou kan wegneem wat God gegee het nie.

“Die land” gaan vanjaar ook tydens Afrikaans is Groot-konserte gehoor word. Die snit sal einde September eksklusief beskikbaar wees in die Afrikaans is Groot Vol. 11-album. ’n Plakker van die embleem sal saam met elke album beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.