Topgehalte klassieke musiek dié week by Atterbury te hoor

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Amira Willighagen, wenner van Holland’s Got Talent, en Charl du Plessis, wêreldbekende en bekroonde Steinway-pianis en organiseerder van Atterbury Klassiek-musiekfees, bring Sondagaand by die Atterbury Teater hulde aan die operasangeres, Mimi Coertse.

Met Mimi sing Mimi wil dié musici Mimi se bydrae tot die Afrikaanse kunslied, waaronder “O Boereplaas”, “Die Berggans” en “Heimwee”, gedenk.

“Dit is regtig vir my en Charl ʼn baie spesiale konsert. Mimi is een van grootste baanbrekers van die Afrikaanse kunslied en opera.

“Ons wil hulde bring aan hierdie ikoniese sangeres se lewe, haar pragtige stem en die ongelooflike woorde wat sy altyd gesing het,” vertel Amira aan Maroela Media.

Sy deel ook ʼn interessante brokkie wanneer sy sê dat die konsert se naam ʼn dieperliggende betekenis het. “My bynaam van kleins af, is ‘Mimi’. Dit is aan die een kant afgelei van my naam, maar ek dink dit het ook dalk met Mimi Coertse se invloed in my lewe te doen.”

Mimi sing Mimi is uit ʼn keur van Afrikaanse, opera, en klassieke musiek saamgestel. Dit bevat ook werke uit musiekblyspele en daarom sal ʼn wye gehoor hierby aanklank vind, meen Amira.

Dit is net een van produksies in die Atterbury Klassiek-musiekfees, wat vandeesweek ʼn derde keer by die Atterbury Teater in Pretoria plaasvind. Die reeks konserte wil gehore op topgehalte klassieke musiekkonserte en uitvoerings trakteer.

Die Hollandse sangsensasie, Amira Willighagen. (Foto: Acorn Tribe Photography)

“Ons doel met hierdie fees is om ʼn diverse musiekprogram aan te bied wat ʼn wye groep mense sal geniet. Daar is iets vir fynproewers, sowel as vir gehore wat minder bekend met hierdie soort musiek is.

“Die aanbod van klassieke musiek is heelwat kleiner as ʼn paar jaar gelede, daarom is dit vir ons belangrik om vir gehore geleenthede te gee om konserte by te woon, en terselfdertyd ook ʼn platform vir kunstenaars te skep om op te tree,” sê Charl.

Hy voeg by dat die Atterbury Teater se diversiteit ook hierdeur ten toon gestel word. “Die ouditorium word in ʼn akoestiese ruimte omskep wat reg aan klassieke musiek laat geskied.”

Die program begin Donderdag met ʼn simfoniekonsert, onder leiding van Richard Cock; daarna volg ʼn toneelstuk oor die lewe van die pianis en komponis Clara Schumann; ʼn solo-klavieruitvoering deur Isaac van der Merwe, wenner van die Atterbury Klavierkompetisie vir 2022; ʼn program deur die internasionale duo, Maria du Toit (klarinet) en Vera Kooper (klavier) van Nederland; en die fees word afgesluit met die Mimi sing Mimi-huldeblykkonsert.

“Om hoogtepunte uit te sonder is moeilik, omdat die konserte so uiteenlopend is. Dit is die eerste keer dat ʼn simfoniekonsert van hierdie omvang in die teater aangebied word. Ek dink dit gaan ʼn uitsonderlike ervaring wees.

“Isaac is ʼn ongelooflike pianis met ʼn wonderlike persoonlikheid, en hy het reeds baie pryse gewen. Hoewel Maria en Vera se program musiek bevat wat ʼn mens nie elke dag hoor nie, is dit werk van hoogstaande gehalte,” brei Charl uit.

Clara

Clara, ʼn nuutgeskrewe dramateks uit die pen van Riana Scheepers, word op 19 Mei aangebied. Dit handel oor die lewe van die komponis en pianis Clara Schumann, beter bekend as Robert Schumann se vrou.

Carla Smith (links) is in die rol van Clara en die pianis Nina Schumann (regs) verklank Clara se storie met klaviermusiek. (Foto: Verskaf)

Carla Smith vertolk die rol van Clara en die pianis Nina Schumann (soos Madame Clara ook pedagoog en konsertpianis) verklank Clara se storie met klaviermusiek. Dit is musiek deur die komponiste Robert Schumann, Johannes Brahms (Clara se geliefde vriend), en natuurlik werk van Clara self.

Niël Rademan, regisseur van die toneelstuk, het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dat Clara se verhaal iets is waarmee elke teaterganger op ʼn manier kan vereenselwig.

“Dit gaan oor iemand met drome in hulle oë, wat hunker en hoop op liefde, teleurstelling, ouderdom en uiteindelike vrede, selfs dalk vreugde. Hierdie lewensverhaal, wat deur die liriese enigmatiese Riana Scheepers-teks en klassieke musiek vertel word, is enig, pragtig, intiem en groots.”

Kaartjies vir Atterbury Klassiek 2023 is by Seatme beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.