Touch, pause, engage!

Kaptein Skuim

‘n Dubbeldosis-vermaak wat die 2011 Rugby-wêreldbekertoernooi met luilekker saamsing en histeriese lagbuie gaan verwelkom. Dit is wat Suid-Afrikaners van die geheimsinnige Kaptein Skuim en sy debuut-CD, Touch, Pause, Engage!, kan verwag.

Martin Bester van die radiostasies Jacaranda 94.2 vertel dat daar ewe skielik pakkies by die stasie se ontvangs en voordeur vir die Martin Bester Drive – weekdae om 16:00 – afgelewer is. “Partykeer is dit ‘n liedjie, partykeer ‘n prank en partykeer ‘n parody. Ons weet glad nie wie die ou is nie. En ons het geen beheer oor hom nie. Hy het ons wel al in die verleentheid gestel.”

‘n Keur van die gemaskerde Kaptein Skuim se poets-oproepe, opstuur-advertensies en komiese liedjies is nou op CD verewig met ‘n hele handvol nuwe liedjies, wat rugbykoors die hoogte gaan laat inskiet. Die dubbel-album skop af met Die Songs, wat onder andere ‘n Leon Schuster medley en nuwe treffers soos Bokke, Loopdop en Die Springbok kom. Bester sê dit is duidelik dat Kaptein Skuim vir Schuster as ‘n inspirasie beskou.

Bester reken dat Kaptein Skuim hom in ‘n japtrap as “Suid-Afrika se vooraanstaande dirigent” of rasieleier gevestig het met sy rugby-treffers en dat Suid-Afrikaners met Touch, Pause, Engage! sal kan gees vang soos nog nooit tevore nie. En dié wat dalk nie rugby-koors onder lede het nie, sal minstens dubbeld vou met die lag vir die album se tweede CD, Die Parodies & Pranks.

Met sy poets-oproepe het Kaptein Skuim al vir Bobby van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Arno Jordaan, Heinz Winkler, Rian van Heerden en Karlien van Jaarsveld ‘n streep getrek. Verder steek hy die draak met F.A.K.-liedjies, die rolprent Getroud met rugby, Oprah Winfrey se eredoktorsgraad en selfs bekende radio-advertensies.

“Hy herinner my aan die outjies op skool wat die meisies se hare trek. Kaptein Skuim sal enigiets doen om mense te laat lag én te laat frons. Hy is ‘n woelige, ondeunde en snaakse outjie. En tog is hy nie net ‘n prankster nie. Hy is ‘n all-rounder: hy kan ook kitaar speel en sing,” reken Bester.

Daar is ‘n nuwe grapjas in Suid-Afrika en selfs die lands se voorste poetsbakkers sal moet koes, want Kaptein Skuim is duidelik nie ‘n liggewig nie. Met sy voorhamer-talent, meesleurende rugby-deuntjies en prettige poetse is Touch, Pause, Engage! net ‘n bevestiging dat Kaptein Skuim op sy misterieuse manier hier is om te bly! Tesame met die bes bewaarde geheim van wie agter daardie masker-mondering skuil…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.