Treffers van die 80’s

Treffers van die 80s

Foto verskaf aan Maroela Media

Aangesien die 1980’s een van die gewildste dekades in die geskiedenis van die internasionale musiekbedryf is, is daar al baie versamelings met hierdie dekade se musiek uitgereik.

Daar was egter nog nooit ’n versameling van Afrikaanse en internasionale musiek nie, maar uiteindelik is so ’n versameling, Treffers van die 80’s, uitgereik. Hierop verskyn byna veertig van die grootste treffers van die 1980’s, nie net internasionaal nie, maar ook plaaslik. Die eerste snit op die album is Jennifer Rush se reuse nr. 1-treffer “The power of love”, wat teen die einde van 1985 nege weke lank bo-aan Springbok Radio se trefferslys was.

Bles Bridges het verskeie treffers in die 1980’s gehad, maar “Reik na die sterre” was die enigste een wat die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers was, en daarom was dit ’n goeie keuse vir hierdie versameling.  Steve Hofmeyr het in die 1980’s vir die eerste keer onder die publiek se aandag gekom. “Laaste lag” was sy eerste Afrikaanse treffer, en omdat dit moeilik is om in die hande te kry, is dit goed dat dit hier ingesluit is. Sias Reinecke is in 1982 aan ’n hartaanval oorlede, maar die vorige jaar het hy die Treffer van die Jaar op Afrikaanse Treffers met “Sproetjies” gehad.

In die 1980’s het Laurika Rauch ’n paar albums uitgereik. Een van die grootste treffers wat sy in daardie tyd gehad het, was “Jy is te dierbaar”, ’n komposisie van Kupido, wat onlangs oorlede is. Soms gebeur dit dat ’n liedjie eers na ’n paar jaar ’n treffer word.

Herman Holtzhausen het “Trans-Karoo” reeds in 1980 opgeneem, maar dit het eers gewild geword nadat dit in 1984 die temaliedjie van die gelyknamige televisiereeks geword het. “Ek lewe” het eers twee jaar nadat dit vrygestel is, die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers geword; dit was seker Anneli van Rooyen se grootste treffer.

Een snit wat dalk nie heeltemal ’n 1980’s-treffer was nie, maar eerder in 1979 vrygestel is, is “Byeboerwa” van Carike Keuzenkamp. Dit bly egter ’n groot gunsteling en daarom is dit goed om dit op hierdie versameling te sien.  Manuel Escorcio en Janita Classen het ’n groot treffer met “Feestyd se wysie” gehad. Dit is die Afrikaanse weergawe van “Waltzing Maria” van BZN, en dit sou beter gewees het as die oorspronklike een eerder ingesluit is.

Die eerste snit op die tweede CD is a-ha se eerste groot treffer, “Take on me”, en die musiekvideo daarvan is een van die bestes uit daardie tyd. Randall Wicomb is aan die einde van verlede jaar oorlede nadat hy kanker gehad het, en “Duitswes-wals” is ’n welkome insluiting op hierdie versameling. Anton Goosen het homself gevestig as een van die legendes van Afrikaanse musiek, veral omdat hy feitlik enige tipe liedjie kan skryf. “Pas getroud” was een van sy groot treffers uit die 1980’s. Die tema van die televisiereeks Vyfster was sonder twyfel die grootste Afrikaanse treffer uit die 1980’s, selfs al was dit natuurlik ’n instrumentale snit, en dit hoort beslis op hierdie versameling. Nog ’n groot Afrikaanse treffer, wat ook op Springbok Radio se Top 20 was en hier ingesluit is, is “Gee vir my ’n bietjie country” van Cora-Marie.

Geen 1980’s-versameling is volledig sonder die grootste treffer van die dekade op Springbok Radio se trefferslys nie. UB 40 se weergawe van Neil Diamond se komposisie “Red red wine” was ’n verstommende twaalf weke lank in die eerste plek, en gelukkig is die albumweergawe, wat effens langer as die radioweergawe was, hier ingesluit.  Rina Hugo het drie Treffers van die Jaar op Afrikaanse Treffers gehad, en “’n Tikkie vryheid” was een daarvan.

“Jantjie” was die eerste treffer wat Anton Goosen vir Sonja Herholdt geskryf het; dit is wel nie ’n 1980’s-treffer nie, maar die vraag is of dit regtig saak maak. Manuel Escorcio het dwarsdeur die 1980’s treffers gehad; “Vrygesel” is een wat al in die vergetelheid verdwyn het en daarom is dit goed dat dit hier ingesluit is. Janita Claassen het ’n aantal treffers in die 1980’s gehad, veral “Rolbos”, wat hier ingesluit is. Een van die mees welkome snitte op die album is Boney M se laaste nr. 1-treffer in Suid-Afrika, “We kill the world (Don’t kill the world)”, wat vandag byna onmoontlik is om in die hande te kry.  Teen die einde van die 1980’s het Johannes Kerkorrel ’n rewolusie in Afrikaanse musiek ontketen met sy album Eet kreef, saam met die Gereformeerde Blues Band. “Hillbrow” was die groot treffer vanaf hierdie album, en een van net ’n paar snitte wat hoegenaamd radiolugtyd gekry het.

Uit die aard van die saak is dit onmoontlik om iets oor elke snit op hierdie versameling te sê, maar as jy in die 1980’s grootgeword het, of dalk net van daardie era se musiek hou, kan jy gerus hierdie album by jou CD-versameling voeg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wiebo ·

80’s was die beste musiek ooit. Let wel, nie Suid Afrikaanse 80’s musiek nie. Om na Jennifer Rush en Bles Bridges saam te luister op een album sal n ramp wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.