Treffers van die 90’s

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Vroeër vanjaar het een van ons land se grootste platemaatskappye ʼn versamelalbum vrygestel, waarop plaaslike en oorsese treffers van die 1980’s gehoor kan word.

Nou het hulle dit opgevolg met ʼn versameling van die musiek van die 1990’s met basies dieselfde resep, maar net met die volgende dekade as onderwerp. Dit is gepas dat ʼn treffer van een van die gewildste kunstenaars van daardie tyd, Celine Dion, eerste op dié versameling verskyn. “My heart will go on” was die temaliedjie uit die rolprent Titanic en het baie gou gewild geword.

Die eerste Afrikaanse snit op die versameling is die titelsnit van Leon Schuster se album, Hie’

kommie Bokke, wat rekordgetalle verkoop het en sonder twyfel bygedra het tot die Springbok-rugbyspan se oorwinning in die Wêreldbeker op tuisbodem in 1995.

Steve Hofmeyr het al laat in die 1980’s tot die musiekbedryf toegetree, maar aanvanklik hoofsaaklik in Engels gesing. “Daar waar jy moet wees” was seker een van sy eerste groot Afrikaanse treffers. Teen die laat 1990’s was daar nie veel Afrikaanse musiek wat regtig gewild was nie, maar Blackie Swart het die kol met die titelsnit van sy album, Liewe Lulu, getref.

Toe Britney Spears net sewentien jaar oud was, het sy die internasionale musiekbedryf soos ʼn bom getref met haar album en treffersnit “Baby one more time”.  Bles Bridges was dwarsdeur die 1990’s een van ons land se gewildste Afrikaanse kunstenaars, en “My hart is in vlamme” het oorspronklik op sy album, Die hart van my moeder, verskyn.

Laurika Rauch het al die temaliedjies van verskeie televisiereekse gesing en “Die mense op die bus” kom uit Jan Scholtz se dramareeks Iemand om lief te hê. Teen die 1990’s het Koos Kombuis, wat deel van die Voëlvry-beweging was, begin om ook kommersieël-toeganklike liedjies te skryf en “Bicycle sonder slot” het een van sy grootste treffers geword.

Lucas Maree was nog een van die beste liedjieskrywers en sangers wat Afrikaanse musiek tot dusver opgelewer het en die tydsberekening van die insluiting van “Droomvrou” by hierdie versameling is in die kol, aangesien Jacques Terreblanche se weergawe besig is om gewild te word.

Die titelsnit van Twenty 4 Seven se album Slave to the music was een van die lekkerste danstreffers van die 1990’ maar dié groep het egter sedertdien net nog een album gemaak en toe verdwyn.  Drie van die grootste Afrikaanse treffers van die 1990’s is die laaste snitte op die CD, naamlik “Lief vir alles hier” van André Schwartz, “Wil jy dans, Carina?” van Francois en Elizabeth Fourie en “Hoe sê mens dankie” van Jurie Els.

Britney Spears was nie die enigste sangeres wat as tiener in die 1990’s tot die musiekbedryf toegetree het nie. Haar grootste teenstander was Christina Aguilera, wie se eerste treffer “Genie in a bottle” hier ingesluit is.

Anton Goosen is een van die legendes van Afrikaanse musiek en heel moontlik die veelsydigste liedjieskrywer tot nog toe. “Die seewater is blou” is een van sy komposisies wat in die 1990’s gewild was.

Een van die redes waarom die gehalte van musiek in die 1990’s begin afneem het, was die toename in die gewildheid van “rap” musiek. Een voorbeeld hiervan was MC Hammer  se treffer “U can’t touch this”. Daar was ook baie verbygaande foefies in daardie tyd, soos Los del Rio se treffer “Macarena”, wat ʼn nuwe dansgier tot gevolg gehad het.

Thys die Bosveldklong het laat in die 1990’s sy verskyning op die musiektoneel gemaak en “Ma sê Pa sê” was seker sy eerste groot treffer.  Die ander groot treffer van die 1990’s, wat eintlik net ʼn foefie was, was Lou Bega se “Mambo no. 5”, wat net ʼn rukkie lank gewild was.

Een van die grootste reggae-treffers van die 1990’s, wat hier ingesluit is, is “Sweat (a la la la la long)” van Inner Circle.  Danie Niehaus het tot dusver ʼn lang en suksesvolle loopbaan gehad en “Kleure” was seker een van sy grootste treffers tot dusver.

Steps is nog ʼn groep van die 1990’s wie se sukses van korte duur was en as jy na hul weergawe van die Bee Gees-treffer “Tragedy” luister, sal jy verstaan hoekom. “Vier woorde” was oorspronklik ʼn treffer vir Louise Senekal en Jaco Pieterse, maar Philip en Ella Kotze se weergawe is hier ingesluit.

“Dagbreek” was een van Anneli van Rooyen se laaste treffers voordat sy gedwing is om haar sangloopbaan weens gesondheidsredes te onderbreek, maar dit later weer kon hervat. Die laaste snit op die album is Francois Hayes se treffer “Kotteljons”.

As jy Treffers van die 80’s geniet het, sal jy dalk ook van hierdie versameling hou. ʼn Mens kan egter met sekere snitte agterkom die 1980’s was die hoogtepunt van die geskiedenis van die internasionale musiekbedryf, maar daar was te veel “one hit wonders” (verskoon maar die Engels) en die musiek self was ook nie meer dieselfde nie. Gelukkig is ʼn aantal goeie snitte uit hierdie tydperk ook by hierdie versameling ingesluit.

Musiekvideo: Laurika Rauch “Die mense op die bus”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.