Tribute to the poets- Theuns Jordaan

Tribute to the poetsDit is seker nou al vyftien jaar sedert Theuns Jordaan sy eerste tree in die Afrikaanse musiekbedryf gegee het, maar eintlik het hy lank tevore al in kuierplekke gesing terwyl hy nog ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch was.

Hoewel hy al baie groot sukses as Afrikaanse sanger en liedjieskrywer behaal het, het hy besluit om ‘n album op te neem waarop hy ‘n klompie van sy Engelse gunstelinge sing. Die vraag is: hoekom moet ‘n mens ‘n resensie van ‘n Engelse album op ‘n Afrikaanse musiekwebtuiste plaas? Daar is verskeie redes hoekom dit gedoen kan en moet doen: die belangrikste is dat Theuns ‘n baie gewilde kunstenaar is en dat daar baie mense sal wees wat in hierdie album sal belangstel.

Die eerste snit op hierdie album is I walk the line van Johnny Cash. Baie mense het eers regtig bewus geword van Cash se musiek nadat die rolprent Walk the line verskyn het, en soos Theuns, het Cash ‘n diep basstem gehad. Daarom kan Theuns sy musiek baie goed sing. Neil Diamond is een van die legendes van internasionale musiek, en Solitary man was een van sy vroeë treffers. Theuns se weergawe is beter as Steve Hofmeyr s’n, en wer eens vertolk Theuns sy musiek baie goed. Bruce Springsteen het in 1984 ‘n reuse treffer met die album Born in the USA gehad, maar Theuns het wyslik besluit om nie ‘n treffer vanaf hierdie album in te sluit nie, omdat dit oorbekend is. Tougher than the rest was op Springsteen se volgende album, Tunnel of love. Theuns is nie die eerste plaaslike kunstenaar wat dit opneem nie; Ray Dylan het dit ook al gedoen. Een van die verrassings vanaf die album is Go your own way, Fletwood Mac se grootste treffer in Suid-Afrika. Simon and Garfunkel was seker een van die suksesvolste sangpare in die geskiedenis van musiek, en Theuns kon seker een van ‘n hele spul treffers kies, en The boxer is seker een van die beste snitte wat hulle geskryf en opgeneem het. Streets of London is ‘n pragtige liedjie wat deur Ralph Mc Tell geskryf en gewild gemaak is; daar is lank laas ‘n nuwe opname daarvan gemaak. Twee van die mees invloedryke liedjieskrywers tot nog toe is Leonard Cohen en Bob Dylan, en Theuns het besluit om hul onderskeie komposisies So long Marianne en Blowin’ in the wind in te sluit. Veral Theuns se lae register op So long Marianne klink fantasties, en dieselfde geld sy mondfluitjiespel op Blowin’ in the wind. Die ritme is ook effens vinniger as waaraan ‘n mens gewoond is, maar weer eens klink dit baie goed. As ‘n mens aan Bill Withers dink, is dit gewoonlik as gevbolg van net een liedjie, naamlik Lean on me. Sy ander treffer was Ain’t no sunshine, wat Theuns ingesluit het. Diegene wat die rolprent Notting Hill gesien het, sal onthou dat The Lighthouse Family se weergawe deel van die klankbaan was. Father and son was ‘n treffer vir Cat Stevens, maar sedert die 1970’s het verskeie kunstenaars dit al opgeneem. Die belaglikste opname was die een van Boyzone; die groeplede was te jonk om hulle met die woorde te vereenselwig. Theuns se opname is egter baie meer geloofwaardig. Peter Gabriel was oorspronklik die hoofsanger van Genesis voordat hy besluit het om ‘n solo-loopbaan te volg. Sy bekendste treffers was Sledgehammer en Biko (ter nagedagtenis aan Steve Biko), maar Theuns het besluit om Book of love in te sluit. Dit is ‘n pragtige liedjie, en dis goed dat Theuns dit vir die album gekies het.

Die volgende twee snitte is nog redelik nuut, maar dit pas goed by die album in. The Counting Crows se debuutalbum het omtrent twinting jaar gelede verskyn, en Round here is een van die groot treffers wat dit opgelewer het. U2 se album The Joshua Tree sal onthou word as een van die bestes van die 1980’s, en I still haven’t found what I’m looking for was een van die treffer vanaf dié album. Theuns het ‘n paar van Neil Diamond se treffers in ‘n keurspel ingesluit, naamlik Forever in blue jeans, Sweet caroline, Longfellow serenade en Beautiful noise. Drie snitte word as bonussnitte ingesluit; nugter weet hoekom. Aldrie is deur country-kunstenaars gewild gemaak; Love me tonight was ‘n treffer vir Don Williams, terwyl The gambler seker Kenny Rogers se bekendste treffer is, al is dit destyds in Suid-Afrika verbied. Die laaste snit, Sunday morning coming down is geskryf en gewild gemaak deur ‘n kunstenaar wat in Maart in Suid-Afrika kom optree, naamlik Kris Kristoffersen.

Hoewel Theuns niks het om te bewys wat oorspronklikheid en musikale integriteit betref nie, moes hy onder venynige kritiek deurloop omdat hy hierdie album opgeneem en vrygestel het. Daar is byvoorbeeld gesê dat hy “’n karaoke-album opgeneem het om vinng geld vir Kersfees te kry.” Hierdie kommentaar kan as niks anders as loutere snert beskou word nie. Die gehale van die musiekverwerkings en van Theuns se vertolking van ‘n aantal groot treffers is feitlik onberispelik, en dit is maar net ‘n toonbeeld van Theuns se veelsydigheid as kunstenaar. Om die waarheid te sê: dit sal maak dat Theuns se musiek by ‘n groter gehoor byval sal vind en daarom verdien dit om ‘n groot sukses te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Geen kommentaar

marica de wet ·

Ongelooflike CD. Ek is lankal ‘n groot aanhanger van Theuns en dis amper ondenkbaar dat hierdie CD as karaoke beskou is! Wat ‘n ongelooflike tentoonstelling van ‘n pragtige basstem – iets waarmee min kunstenaars kan spog. Hierdie CD is beslis een van my eerste Theuns keuses!

cathy van dalen ·

wil net se theuns het n mooi stem wat my die cd laat koop is bitter mense kan Johnny Cash se songs sing wil net se ek is n baie groot Johnny Cash fan ek dink hy sing dit goed

Johan ·

Met die afsterwe van Nia Nel se moeder sou sy haar show kanselleer maar het deurgedruk. Wonder bo wonder het sy gesê dat Theuns haar op die lughawe raakgeloop het en haar gesê het hy gaan saam na haar show. As sy voel dinge raak te veel sal hy haar bystaan en die mense vermaak. Dit is ‘n gentleman en ware vriend!
Na al die negatiewe kommentaar oor die cd moes ek dit net hê! ek het inelgeval al Theus se albums. hierdie is ‘n puik album en seker een van die wat ek sover die meeste geniet. Vir die eerste keer vandat Cat Styevens “Father and Son” gesing het, het ek nou werklik na die woorde geluister en verstaan wat aangaan! Dankie Theuns.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.