Tussen Sterre gereed om gehore in suiwer Afrikaans te rock

Tussen-Sterre-musiekvideo

‘n Skermskoot uit die video vir “Wonder Steeds”. Vlnr: Johan van Dyk (kitaarspeler), akteur Keaton Ditchfield, Martin Earle (kitaarspeler) en Jan-Mattys van Lill (voorsanger). Foto: Facebook

Meeste mense ken die uitdrukking “mik vir die maan, en selfs as jy mis sal jy tussen die sterre beland”. Dít is waar die nuwe Afrikaanse pop-rockgroep Tussen Sterre aan hulle naam gekom het. “Ons wil baie hoog mik met ons musiek, en ons wil tussen die sterre wees,” skerts Johan van Dyk, kitaarspeler en sanger van die groep.

Johan, Jan-Mattys van Lill, ʼn sangonderwyser, en Martin Earle, ʼn kitaaronderwyser, het verlede jaar besluit om die groep te vorm. “Ons het gevoel daar is ʼn leemte in die Afrikaanse mark vir pop-rockgroepe,” vertel Johan.

Jan-Mattys, die 25-jarige voorsanger van die groep, vertel dat hy sy eie sangskool het wat hy op die been gebring het nadat hy ná skool as deel van ander maatskappye sanglesse aangebied het. “Ek was nog nooit die akademiese soort nie,” lag hy. “Musiek is wat ek vir die res van my lewe wou en wil doen. So ek het nie ná skool gaan studeer soos almal wou hê ek moes nie.”

Dié talentvolle sanger het in 2009 tweede gekom in ʼn sangkompetisie in Los Angeles waaraan sangers van 55 lande van regoor die wêreld deelgeneem het. “Ek is ook baie goed met die driehoekie,” skerts hy.

Hy meen dat dit vir Tussen Sterre belangrik is om eg Afrikaans te bly “omdat daar min musiekgroepe daar buite is wat eg Afrikaans bly. Baie van hulle sluit woorde in soos cool en babes.”

Martin, hoofkitaarspeler van die groep, beaam die stelling. “Dit is makliker om onsself uit te druk in Afrikaans om die boodskap van die lied oor te kry na die gehoor,” sê hy.

Martin, 26, wat ook kitaarlesse aanbied, vertel hy het op die ouderdom van 16 begin kitaar speel en het ná skool musiek studeer by Copa (Campus of Performing Arts). Hy is daarna saam met die musiekgroep Marmalade Jade vir ses maande Dubai toe. “Ons het bekende liedjies gespeel in ʼn baie warm klub,” lag hy.

Hy sê Tussen Sterre kan vergelyk word met die Amerikaanse musiekgroep 5 Seconds of Summer. “Regte pop-rock,” sê hy, “soos die goed wat ons op hoërskool geluister het. Soos Blink182 en Sum41, maar meer in die Afrikaanse pop-rigting.”

Johan, die 23-jarige finalejaar student in ingenieurswese, het die groep se eerste enkelsnit, “Wonder steeds”, geskryf. “Ek het dit oor my eks geskryf,” vertel hy. “Dit gaan oor wanneer jy dink aan die persoon met wie jy in ʼn verhouding was en jy wonder steeds of jy saam met die persoon moet wees of nie.”

Hy het op 14 begin tromme speel, en sy liefde vir kitaar en klavier het later gekom. “Ek het ná skool ʼn beurs gekry om ingenieurswese te studeer, maar musiek is my passie,” sê hy. Hy is ook deel van die internasionale trom-sensasie 1st Project.

Tussen Sterre stel hulle tweede enkelsnit “Tien uit tien” in November bekend, en wil graag teen Maart volgende jaar hul vollengte album met 13 snitte op die rakke hê.

“Ons wag net vir Johan om klaar te maak met sy studie sodat ons volgende jaar volstoom met vertonings kan begin,” sê Jan-Mattys opgewonde.

Hier is Tussen Sterre se musiekvideo vir “Wonder steeds”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Basson ·

Klink goed, voorspoed met die projek! Sal def belangstel :)

Beanca ·

Die groepie is baie uniek en ek moet se wonder steeds se lerieke en melodie is van so aard dat ek myself daagliks vang die wysie hum! Eks baie opgewonde om die res van hul goed te luister en n paar sokkie passies op neer te le! Asemrowende musiek!

Jurie ·

Baie goeie onderhoud goeie musikante kan nie wag om meer te sien nie.

danie ·

Goed om te hoor Tussen Sterre maak regte afrikaanse musiek. sterkte met jul vlug

zonique ·

Well done Jannie my neuf….. n aanhouer wen eks trots op jou en jou band julle is uniek en gaan nog n groot merk in die musiek bedryf los!!!Rock on !!!

Christa ·

Tussen Sterre ons is trots op Julle! ! En dink julle lied ‘Wonder Steeds’ is Stunning!! Hou so aan sien uit om meer te hoor van julle!!

Joarina ·

Mal oor die band se sound, kan nie wag om die ander liedjies te hoor nie! Well done…sterkte vir die pad vorentoe mag julle hoogtes bereik!

Anneke ·

Wat ‘n unieke klank wat Tussen Sterre produseer! Fantasties…opgewonde om nog vasn hulle te hoor & te sien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.