Tussen Sterre se debuutalbum bekendgestel

Tussen Sterre albumMet die eersdaagse bekendstelling van hul debuutalbum is die musiekgroep Tussen Sterre nog nuwelinge in die vermaakbedryf, maar hul passie vir musiek is onmiskenbaar.

Johan van Dyk, Jan-Mattys van Lill en Martin Earle is die drie jong manne wat deel uitmaak van die Afrikaanse pop-rockgroep wat verlede jaar hul eerste enkelsnit bekendgestel het. Nou word hul debuutalbum, Kosmies, binnekort bekendgestel.

Johan, kitaarspeler en sanger vir die groep, vertel dat hulle reeds van Julie verlede jaar aan die album werk. “‘Wonder Steeds’ is die eerste enkelsnit wat verlede jaar Julie vrygestel is. Daarna het ons begin skryf aan die album. In Desember verlede jaar het ons die tweede enkelsnit, ‘Vir ewig ʼn goeie tyd’, bekendgestel en nou is die vollengte-album hier,” vertel hy opgewonde.

Hulle skryf al die musiek en lirieke self. “Ons het ateljees by ons huise waar ons byeenkom om te skryf en oefen,” vertel Jan-Mattys, voorsanger vir die groep. “Gewoonlik werk Johan of Martin ʼn lyn uit op die kitaar, en dan sit ons almal saam en raak kreatief met die lirieke.”

Die titel van die album, Kosmies, is spesifiek so uitgedink om te pas by die tema van die groep se naam. “Ons is Tussen Sterre, en wou by die tema hou. Ons het die tema ook deur die res van die album probeer behou,” vertel Johan. “Ons het ʼn liedjie saam met Bouwer Bosch geskryf en opgeneem, getiteld ‘Hemelrym’. Dit is beslis ons gunstelingliedjie op die album.”

Johan sê die boodskap van die liedjie is selfliefde. “Die storie wat daarmee vertel word, is dat jy jouself moet liefhê om ander mense te kan liefhê. Die liedjie self is baie mooi en praat met ons elkeen. Ek was byvoorbeeld goed in rugby op skool, maar het musiek gevind en my ouers het gedink ek mors my tyd. Ek glo elkeen kan aanklank vind by die boodskap van die liedjie.”

Jan-Mattys beaam dit. “Elkeen kan sy eie storie daaruit neem. Dit hoef nie net oor rugby of net oor skool te wees nie.”

Volgens Martin, ook kitaarspeler, was dit ʼn voorreg om saam met Bosch aan die liedjie vir die album te kon werk. “Ons almal het grootgeword met Straatligkinders, so Bouwer is nog altyd ʼn groot inspirasie vir ons,” vertel hy. “Ons het hom genader en hy het dadelik ingestem, wat vir ons fantasties was. Toe ons hom uiteindelik ontmoet het, het ons so goed oor die weg gekom. Dit was ʼn plesier om saam met hom te skryf en op te neem.”

Die hooftema en boodskap van die album is liefde, sê hulle. “Ons skryf oor verhoudings, gebroke harte, selfliefde en oor hoe jy jou medemens moet liefhê. Die hele boodskap is om liefde te gee en te ervaar,” sê Martin.

Oor hul tipiese aanhanger lag hulle. “Dit is maar meisies wat nog op hoërskool en universiteit is, asook jonger mense in hulle 20’s en 30’s,” sê Johan.

“Maar ouer mense kan ook aanklank vind by die musiek, veral as hulle daarvan hou om te dans,” keer Jan-Mattys. Hulle lag. “Ja, ons hou baie van dans, want ons is Afrikaans!”

Tussen Sterre se amptelike CD-bekendstelling vind vanaand by Weiveld in Pretoria plaas. Toegang is slegs R50 en die eerste 500 gaste stap weg met ’n gratis CD van Kosmies.

Kyk na die video vir ‘Vir ewig ‘n goeie tyd’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois ·

Dankie aan Maroela Media dat julle ons op hoogte hou van nuwe Afrikaanse musiek! Ek is altyd op soek na interessante ‘bands’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.