Tydlose treffers- Manie Jackson

Tydlose treffersNet meer as drie jaar gelede het die plaaslike musiekbedryf vir die eerste keer van Manie Jackson kennis geneem toe hy ‘n groot treffer met Die hemel weet gehad het.

Manie se gelyknamige debuutalbum was baie lank op RSG se amptelike Top 20-trefferslys, gebaser op werklike albumverkope. Hy het dit opgevolg met Liefde en genade en Sprei jou vlerke, wat weliswaar ook sukses behaal het, maar nie heeltemal so gewild was nie.

Nou het Manie ‘n totaal nuwe rigting in sy loopbaan ingeslaan met die vrygestelling van sy vierde album, Tydlose treffers, waarop hy hulde aan plaaslike- en internasionale kunstenaars van weleer bring. Die eerste snit op die album is Elvis Presley se laaste nr. 1-treffer in Suid-Afrika, Suspicious minds.  Hierdie liedjie is al deur verskeie plaaslike- en oorsese kunstenaars opgeneem, onder meer Steve Hofmeyr,  Fine young cannibals, Gareth Gates en Ray Dylan. Manie se weergawe is seker een van die bestes wat tot dusver van dié holrug geryde liedjie opgeneem is.  Gé Korsten was seker die veelsydigste sanger wat die Afrikaanse musiekbedryf tot nog toe opgeneem het, en hy was ewe gemaklik met pop- of ligte Afrikaanse musiek as met opera. Nicolene was ‘n goeie keuse, en die feit dat hierdie snit die eerste radiotreffer vanaf die album was, behoort niemand te verbaas nie. Charles Jacobie het in 1961 tot die plaaslike musiektoneel toegetree met sy album, Die singende beesboer, en Mockingbird song was seker een van sy grootste treffers. Manie se opname daarvan is baie goed; dit is nie maklik om te jodel nie, maar Manie kry dit goed reg.  Blue eyes crying in the rain is oorspronklik deur Hank Williams opgeneem, maar dit het veral gewild geword nadat Willie Nelson dit in 1975 opgeneem het. Carike Keuzenkamp sing dit saam met hom, en dit laat ‘n mens wens dat Carike weer ‘n volwasse album sal opneem. Hoe lyk dit, Carike? White rose of Athens was ‘n treffer vir Nana Mouskouri, en dis snaaks om te hoor dat ‘n man dit sing. Manie se opname daarvan is baie goed.  Hoewel Roger Whittaker se musiek baie gewild is, sal baie mense verbaas wees om te hoor dat I don’t believe in if anymore sy enigste treffer op Springbok Radio se Top 20 was. Manie het dit gekies vir hierdie album, en weer eens het hy ‘n goeie opname daarvan gemaak. Wanneer enige kunstenaar besluit om ‘n liedjie van Tom Jones op te neem, is dit gewoonlik Help yourself, It’s not unusual of Delilah, en dit is goed dat Manie een van sy vergete nr. 1-treffers, Daughter of darkness, opgeneem het. Manie maak hoegenaamd geen geheim dat hy seker Bles Bridges se grootste aanhanger is nie; Bles se seun, Victor, is sy klankman en hy is ‘n goeie vriend van die Bridges-familie. Daarom behoort dit niemand te verbaas dat hy een van Bles se treffers ingesluit het nie. Laat my lewe, laat  my liefhê was seker een van Bles se heel beste opnames ooit, en Manie se weergawe behoort ‘n treffer te word. As Joe Dolan die Springbok Radio Top 20-gehaal het, het hy gewoonlik by die nr. 1-posisie uitgekom; My love was een van die liedjies waarme hy dit reggekry het. Met hierdie liedjie stel Manie sy vokale reikwydte ten toon, maar ek is byna seker dat Manie dit in ‘n laer toonaard as wat Joe Dolan dit gedoen het.

Baie mense dink dat dit Gert Potgieter was wat Cheryl Moana Marie oorspronklik gesing het nie, maar eintlik was dit John Rowles, wat ook ‘n treffer met If I only had time gehad het. Hoewel Gert se opname gereeld oor die radio gehoor is, was dit nooit op Springbok Radio se Top 20 nie, wat baie snaak s is. Manie se opname is dalk ook in ‘n laer toonaard as dié van Gert Potgieter, maar hier wys Manie dat hy nie sukkel om die lae note by te kom nie. Die meeste mense wat besluit om Demis Roussos se musiek op te neem, kies My friend te wind, maar Manie het op Goodbye my love goodbye besluit. Dalk is sy opname beter as die oorspronklike een. Dit is moeilik om te glo dat dit vanjaar die vyftigste herdenking van Jim Reeves se dood in ‘n vliegongeluk is, en Manie het besluit om sy groot treffer I love you because in te sluit. Tony Christie het in  die vroeë 1970’s twee groot treffers gehad, naamlik Is this the way to Amarillo en I did what I did for Maria, en hy het One dance with you laat in sy loopbaan opgeneem. Nogtans is dit die snit wat Manie gekies het om op te neem; dit was ook die titelsnit van een van Bles Bridges se albums.  Die oudste liedjie op die album is Danny boy, wat byna ‘n eeu oud is. Johan Stemmet het al gesê dat dit een van sy gunstelingliedjies tot nog toe is. Dit is al opgeneem deur kunstenaars soos Jim Reeves, Johnny Cash, Connie Francis en selfs Eric Clapton. I am…I said was in 1971 ‘n treffer vir Neil Diamond, en verskee kunstenaars het dit al opgeneem, hoewel dit eintlik ;n baie moeilike liedjie is om te sing. Dit is seker die snit waarop Manie sy vokale reikwydte die beste ten toon stel. Veral die lae note aan die begin klink baie goed.  Manie het nog ‘n snit van Jim Reeves ingesluit, naamlik Have you ever been lonely, wat Jim oorspronklik saam met Patsy Cline gesing het. Manie sing dit hier saam met Petro Liebernberg. Petro se stem herinner ‘n bietjie aan Patsy Cline s’n, en hierdie opname klink baie goed. Die voorlaaste snit is ‘n walskeurspel, wat bestaan uit Engelbert Humperdinck se twee treffers The last waltz en There goes my everything, Love is a beautiful song van Dave Mills en Lay down beside me van Don Williams. Dis jammer dat hy hierdie snitte nie afsonderlik opgeneem het nie. Die laaste snit op die album is Frank Sinatra se bekende My way. Dit is weer eens nie ‘n maklike liedjie om te sing nie, maar Manie kry dit baie goed reg.

Ek moet reguit wees: ek was een van Manie se heel grootste kritici, en ek het geen geheim daarvan op  sosiale media gemaak nie. Daarom het hierdie album as ‘n baie groot verrassing gekom; hy bewys hier dat hy nie net kan sing nie, maar dit baie goed kan doen. Die gewildheid van hierdie album is ook geen verrassing nie; dit behoort by ‘n baie groot gehoor byval te vind. Die vraag is nou net of ek bereid is om my kritiek teen Manie te versag, of te laat vaar. Die tyd is dalk nog nie reg daarvoor nie; kom ons kyk wat hy met sy volgende Afrikaanse album gaan doen. Daar is egter geen twyfel dat ‘n mens hierdie album met ‘n oop gemoed moet benader en baie sterk kan aanbeveel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.