Tygerberg-kinderkoor ná 50 jaar steeds singend

Die Tygerberg-kinderkoor vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. (Foto: Verskaf)

Die Tygerberg-kinderkoor vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar en dié gesogte wêreldkoor uit die Wes-Kaap gaan steeds van krag tot krag.

Dié prestige-koor, wat tans uit sowat 45 lede bestaan maar tot soveel as 70 lede inneem, is een van die oudste kore in die land. Kinders tussen die ouderdomme van tien en 15 jaar oud van regoor die Wes-Kaap lê jaarliks oudisies af om deel te wees van die koor.

Die Tygerberg-kinderkoor is in 1972 gestig en word tans begelei deur Madri Gerber. Hennie Loock, wat in 2018 die koor ná 46 jaar as koorleier verlaat het, het oor die jare aan die klank van die koor geskaaf tot ʼn volwaardige klank wat eie is aan dié koor.

Karina Erasmus, wat reeds die afgelope 24 jaar personeellid van die koor is en in April 2019 dirigent geword het nadat Loock die koor verlaat het, sê dié klank is besonders en bly behoue deurdat dit jaar na jaar deur die kinders aan mekaar oorgedra word.

“Daar is ʼn tipe van kontinuïteit wat deur die jare behoue bly,” sê Erasmus aan Maroela Media. Sy het as dirigent by die koor begin werk toe haar eie kinders in die koor was.

Karina Erasmus, dirigent van die koor, saam met ‘n klomp van die koorlede. (Foto: Verskaf)

Kinders wat belangstel om koorlede te word sal nadat hulle ʼn eerste rondte oudisies geslaag het eers vir ʼn maand lank deel word van die koor om te kyk of hulle by die koor inpas en teen die gewenste pas musiek kan aanleer.

“Ons leer sowat 20 stukke musiek per jaar aan, so dit is ʼn beslis ʼn vereiste dat ʼn kind vinnig moet kan leer. Ná ʼn paar weke in die koor herevalueer ons die kind en word hy of sy dan finaal gekeur om permanent deel te word van die koor,” verduidelik Erasmus.

Dit is vir die koorlede ʼn groot voorreg om deel te wees van die koor, sê sy. “Die kinders is afkomstig van verskillende dorpe en skole van die Paarl en die noordelike voorstede van Kaapstad en sodra ʼn kind deel word van die koor kry hy of sy ook ʼn voogkoorlid wat hulle touwys moet maak. Hulle leer mekaar van die tradisie van die koor en leer ook op so ʼn manier om vir mekaar om te gee. Hulle vorm lewenslange bande met mekaar.”

Die reünies wat elke vyf jaar aangebied word, getuig van die vriendskappe en liefde vir koormusiek wat derugaans deur die Tygerberg-kinderkoor gekweek word.

“Die kinders kom altyd jare later as volwassenes terug om konserte by te woon. Ons hou ook daarvan hom hulle op die verhoog te nooi om ʼn liedjie of twee saam met die nuwe koorlede te sing. Die voel werklik soos ʼn familie,” sê Erasmus.

ʼn Lojale oudkoorlid het besluit om ʼn verandering in die huidige koorlede se lewens te maak en hulle te bederf met onder meer waterbottels, baadjies, rugsakke, koffieflesse en velskoene.

“Die grootste geskenk is egter ʼn splinternuwe bussie waarmee ons koorlede kan rondry – baie keer besluit die kinders se ouers dat die ryery vir kooroefeninge vir hulle nie meer haalbaar is nie en ons verloor dan daardie lede. Nou kan ons ry en die kinders gaan haal en ons kan ook ons koorbankies en instrumente vervoer na optredes. Dit is ʼn ongelooflike gebaar en so iets het nog nooit met die koor gebeur nie.”

Tygerberg-kinderkoor. (Foto: Verskaf)

Op 10 Desember bied die koor ʼn konsert aan waartydens ʼn massakoor van oudlede onder leiding van Loock gaan optree.

Erasmus gee toe dat die Covid-19-pandemie die koor se ledetal ʼn knou toegedien het. “Aangesien kinders hulle afstand van mekaar moes hou en sosialisering beperk is en ook nie kon optree en sodoende resultate sien van waarvoor hulle oefen nie, het baie kinders besluit om die koor eerder te verlaat.”

Hulle het in Junie verlede jaar ʼn opname van die liedjie “Baba Yetu” uitgevoer en opgeneem en ʼn video hiervan het onlangs weer soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Dit het hordes navrae vir oudisies tot gevolg gehad.

“Ons het binne die bestek van twee dae 44 kinders uit alle dele van die Wes-Kaap gekry wat oudisies wil aflê; sommer agt van een skool. Dit is ʼn wonderlike veldtog wat nou weer lewe in ons koor gaan blaas.”

Dié oudisies vind op 8 April plaas en die kinders sal binne twee dae daarna hoor of hulle die eerste rondte oudisies geslaag het.

Die koor oefen Dinsdae van 18:30 tot 20:30 en op Saterdae tussen 09:00 en 13:00. Die kinders word wel op Saterdae toegelaat om hulle sport- of ander buitemuurse aktiwiteite tussen die kooroefening te beoefen.

“Vir ons is dit uiters belangrik om gebalanseerde kinders te kweek,” sê Erasmus.

Die Tygerberg-koor is op Sondag 29 Mei te sien in die Kaapse stadsaal waar hulle aan die Choral Celebration-fees gaan deelneem. Kaartjies kos tussen R75 en R150 per persoon en kore soos die Winelands Chamber-koor, Cantare Paarl Boys High-koor, DF Malan Hoërskool-koor en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor gaan ook op dié fees te sien wees.

Kaartjies kan bespreek word by Tixsa.

Om navraag te doen oor oudisies, stuur ʼn e-pos na [email protected]. Besoek die webwerf vir meer inligting oor die koor.

Die Tygerberg Kinderkoor hou oudisies! Buitelandse Toere / International ToursNuwe Vriende / New FriendsKoorkampe / Choir CampsTelevisie Blootstelling / Television ExposureTans die 4de beste koor ter wêreld!Klik hier om te registreer / Click here to register for auditions.

Posted by Anthonie Bougas on Thursday, March 10, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.