Uber-operasanger verras deur droom-oudisie

Kim Davey en Menzi Mngona. (Foto: Facebook via Kim Davey)

Kim Davey en Menzi Mngona. (Foto: Facebook via Kim Davey)

Menzi Mngona, ʼn 27-jarige Uber-bestuurder van KwaZulu-Natal, se lewe het byna oornag onherroeplik verander nadat ʼn vrou van Gauteng hom tydens ʼn Uber-rit met haar selfoonkamera afgeneem het terwyl hy ʼn operalied gesing het.

Dié plasing is bykans 15 000 keer op sosiale media gedeel en intussen het radiostasies landwyd in gesprek met Mngona getree om sy droom om ʼn operasanger te word, te help bewaarheid.

Martin Bester van die JacarandaFM Breakfast Drive het onder meer Dinsdagoggend op dié program R5 000 aan Mngona geskenk en die Cape Town-operageselskap het Vrydagoggend aangebied om hom Kaap toe te laat vlieg en sy verblyf te betaal vir ʼn oudisie nadat Mngona sy weergawe van Amazing Grace op Kieno Kammies se radioprogram gesing het.

Kim Davey van Gauteng, wat verlede week die oorspronklike video op Facebook geplaas het, was met ʼn sakereis in Durban toe sy in Mngona se Uber beland het. Sy vertel aan Maroela Media sy gesels gereeld met Uber-bestuurders saam met wie sy ry. “Nadat ons ʼn rukkie gesels het, het hy my vertel hy is eintlik ʼn operasanger en ek het hom gevra om vir my iets te sing.”

Toe Mngona begin lostrek op die maat van sy agtergrondmusiek, moes sy vooroor leun in die motor om seker te maak hy sing werklik en dat die stem nie van die radio af kom nie, sê sy. “Ek het hom gevra of ek hom kan afneem. Ek was in absolute vervoering. Dit was so ʼn groot bederf om hom te hoor sing en ek was verheug dat hy sy Godgegewe talent met my gedeel het. Hy het ʼn paar liedjies vir my gesing totdat ek my bestemming bereik het.”

Luidens haar oorspronklike inskrywing, is Mngona ʼn gegradueerde musiekstudent wat geen geleenthede in Suid-Afrika kon kry nie en het hy as Uber-bestuurder begin werk om ʼn inkomste te genereer.

Sy voeg by dat sy nie ʼn idee gehad het dié video sal so ʼn opskudding veroorsaak nie. “Aanvanklik kon mense nie my video deel nie, aangesien my profiel baie privaat is. Nadat mense my versoek het om dit te deel het ek my privaatheid verstel en binne enkele ure het die plasing soos ʼn veldbrand begin versprei.”

Davey sê dit is vir haar ʼn bewys van watter ongelooflike dinge kan gebeur as jy net vyf minute van jou tyd gee om met ʼn vreemdeling te gesels. “Daar het al talle wonderlike geleenthede vir Menzi uit dié video gespruit en ek is so dankbaar vir die verskil wat dit in sy lewe kan maak,” sê sy.

Lesley Liddle, bemarkingsbestuurder van die Cape Town Opera-geselskap, sê aan Maroela Media sy het reeds verlede week van Menzi te hore gekom nadat sy ook sy video op Facebook gesien het, maar kon hom nie bereik nie.

“Toe ek hom Vrydag op Cape Talk Radio hoor, het ek geweet ek móét doodeenvoudig met hom in verbinding tree om te hoor of ons hom by ons kan kry vir ʼn oudisie om deel te raak van ons geselskap. Ek het ingebel na die stasie en hulle het sy kontakbesonderhede met my gedeel. Menzi was uit die veld geslaan oor die oproep.”

Cape Town Opera het aangebied om vir sy vlugte en verblyf te betaal sodat hy binne die volgende twee weke ʼn oudisie in Kaapstad kan aflê. “Ons het gewoonlik in Oktober en November ʼn nasionale toer waar ons voornemende operasangers die geleentheid gee om ʼn oudisie af te lê, maar ons wil nie so lank wag om vir Menzi te sien nie. Dit is ʼn baie groot geleentheid vir hom en sou hy suksesvol wees, sal hy Kaap toe moet verhuis om deel te wees van die geselskap.”

Sy voeg by dat die Cape Town Opera-geselskap in 2020 sy 21ste herdenking vier en dat dié geselskap van krag tot krag gaan, ondanks die feit dat dit ʼn niewinsgewende organisasie is en dat die Gautengse Opera-geselskap gesluit het.

Menzi Mngoma

(For licensing or usage, contact licensing@viralhog.com)

Posted by Kim Davey on Thursday, May 23, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Krewel ·

Nou hoekom ‘sies tog’ jy die man? Hy het talent. ‘BRAVO’ sou meer gepas gewees het.

Essa ·

Kim Davey en al die ander rolspelers, julle is ware sterre. Mag
Menzi Mngona se lieflike stem nou tot sy reg kom en hierdie mooi storie ‘n suksesverhaal word. Ek hoop om binnekort ‘n opname van hom te kan hê. ????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.